MOSSELBAAI NUUS - 'n Groep inwoners het onlangs die Vriende van die Harry Giddey-park tot stand gebring en nooi Mosselbaaiers om by hul geledere aan te sluit.
Die groep stel hul ten doel om die park volhoubaar vir die huidige en toekomstige geslagte te bewaar en uit te bou sodat dit as 'n florerende, openbare ontspanningsarea en as 'n bate vir die dorp kan bly voortbestaan.
Die Vriende van die Harry Giddey-park wil verseker dat 'n kultuur van rustigheid, liefde, respek, bewaring en waardering vir die natuur bevorder word en voorsien dat die fasiliteite en infrastruktuur in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit uitgebou sal word.
Hulle wil hul beywer vir die verfraaiing en instandhouding van infrastruktuur met behoud van die rustige atmosfeer en in harmonie met die natuur, wat ook bevorder word.
Benewens die bemarking van die unieke fasiliteite van die park, beywer die Vriende van die Harry Giddey-park hulle vir die bewaring van die ryke erfenis van die park, asook vir samewerking met die versorging van beide die plante en diere.
Tientalle inwoners het hulle reeds geregistreer as Vriende van die Harry Giddey-park, maar ander belangstellendes word genooi om deel te vorm van die groep.
Belangstellendes kan 083 290 6669 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'