MOSSELBAAI NUUS - Amper soos engele, sien jy hulle nie altyd nie, maar jy weet hulle is daar.
Boonop, na 'n kykie in die werk wat Kansa se plaaslike vrywilligerspan doen, sal baie mense reken hulle is by wyse van spreke baie na aan hierdie hemelwesens.
Vir baie lede van die publiek, is Kansa se beeld dié van prettige geleenthede – soos die Shavathon, die Relay for Life, die gholfuitdaagreeks en Mosselbaai se eie unieke straatmyl binnekort.
Sonder hierdie fondswerwingsgeleenthede, sal die vrywilligerspan nie hulle werk kan verrig nie. En watter taak is dit nie.
Tydens die span se maandelikse byeenkoms, het die Mossel Bay Advertiser gaan inloer om 'n paar van hierdie offervaardige mense te ontmoet.
Raakvatspan
Die plaaslike span staan 21 siele sterk en volgens die voorsitter, Johan Alberts, is dit inderdaad 'n toegewyde raakvatspan.
Johan se woorde word besvestig sodra die span hul pasiëntesorgervarings begin deel. Hulle gesels oor hoe om longkankerpasiënte te help met asemhaling en die alternatiewe beskikbaar.
'n Spanlid, 'n gekwalifiseerde fisioterapeut, gee haar insette. Daar word idees uitgeruil oor hoe om pasiënte te adviseer oor die neem van medikasie en veral pynbeheer.
Hulle almal is dit eens dat die eerste ontmoeting met 'n nuwe pasiënt, dikwels van die grootste uitdagings is.
"Wanneer mense die eerste keer met die kankerdiagnose gekonfronteer word, voel dit vir hulle soos 'n doodsvonnis. Ons werk is om hulle te verseker van ondersteuning, dat ons daar is om die onbekende pad vorentoe so gemaklik moontlik te maak," verduidelik een van die vroue.
So 'n eerste ontmoeting kan tot twee ure lank duur. Soms in sekere gevalle, is die familie van die pasiënt amper moeiliker om te hanteer.
Hierdie vrywilligers keer gou as dit blyk of daar te veel van 'n ophef van hulle gemaak word.
"Hulle is soms wrokkig en het baie vrae. Dit is kernbelangrik om 'n vertrouensverhouding te vestig. Jy ontmoet mense in 'n tyd van krisis en skok en jy is die buitestaander. Dis 'n delikate proses," sê nog 'n vrywilliger.
Ondervinding en opleiding
Baie van die spanlede het self die kankerpad gestap, daarom gee hulle ondervinding die deurslag. Gemeenskapsmobiliseerder Anina Meiring verduidelik ook dat die opleiding wat vrywilligers ontvang, baie sterk fokus daarop om hulle te help om die emosionele impak van pasiëntesorg te kan hanteer.
Hoewel die span meestal uit vroue bestaan, is die twee manne se betrokkenheid van kardinale belang. Veral wat betref die hantering van manskankers, aldus die vrouevrywilligers.
Die TLC-program (Tough Living with Cancer) is spesifiek gemik op kinders. "Daar is uitstekende opleiding en literatuur beskikbaar vir vrywilligers wat hiermee werk," sê Anina Meiring.
Sy verduidelik dat vrywilligers self besluit hoe ver hulle die pad met kankerpasiënte stap. Daar word dus nie van almal verwag om sterwensbegeleiding te doen nie.
Die vrywilligers bied ook noodsaaklike sorggewerverligting wanneer pasiënte tuis versorg word.
Toewyde sorg
Onder die vrywillgergroep, is vroue wat meer as 20 jaar lank mense bystaan in hulle uiterste nood. Daar word vertel van die meisie in haar 20's wat op haar siekbed bly sê het sy gaan trou.
'n Trourok is vanuit die gemeenskap geskenk en in haar kamer gehang, om die pad ligter te maak. Van die vroue wy hulleself só toe aan pasiënte dat hulle feitlik deel van die familie en inwonend word ter ondersteuning.
Daar word gesing en gebid totdat die rus uiteindelik kom. Sommige help selfs daarna om die familie met finale reëlings te ondersteun. Die verhale van toegewyde sorg, laat jou hard sluk aan die knop in jou keel.
Hierdie vrywilligers keer gou as dit blyk of daar te veel van 'n ophef van hulle gemaak word.
"Ons leer by die pasiënte. Hulle verander ons lewens ook. Mens raak geheg aan hulle, maar jy moet onthou, jy kan nie met 'n droewige gesig daar gaan sit nie," vertel een van die ou hande.
"Dit bly moeilik, maar dis makliker om te laat gaan wanneer jy sien hoe swaar pasiënte kry. Uiteindelik, kom daar vrede na die stryd," sê Jannine Frost, die pasiëntkoördineerder.
Hande altyd nodig
Minette van Zyl, wat in fondswerving vir Kansa werk, som op: "We cannot pay volunteers. Not because they are worthless, but because they are priceless." Sy sê sy verwonder haar daaraan dat meeste van die spanlede van elders in Mosselbaai en omgewing beland het. "En die wonderlike ding is, dat Kansa ons almal bymekaargebring het."
Anina Meiring sê dat, al staan die span sterk, hande immers nodig bly. Veral aangesien die aantal kankerpasiënte toeneem. Daar is ook groot nood aan fondswerwingvrywilligers.
Vir meer inligting kontak Anina Meiring (ameiring@cansa.org.za of 044 874 4824 / 073 041 6565) of Minette van Zyl (mvzyl@cansa.org.za of 044 874 4824 / 082 443 3601).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'