Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Werknemer van die Baruchs koffieroostery in Voorbaai, het laat Maandagmiddag, 14 November, terwyl hy besig was om die roosters skoon te maak, na bewering sy bewussyn verloor en met die val sy kop teen 'n tafel gekap.
Die nooddienste was vinnig op die toneel waarna die jongman (27) met privaat ambulansdienste na die hospitaal geneem is vir verdere toetse.
Volgens Marietjie Breet, vriendin van die eienaar, Aharon Baruch, was al agt die werknemers in die winkel toe die man geval en na bewering stuiptrekkings gekry het. "Aharon was eerste by hom en het hom op sy sy gedraai en gehelp dat hy nie verstik nie. Hy het hom gemaklik gemaak en kalm gehou tot die nooddienste opgedaag het."
Sy sê: "Hy werk al sewe jaar by ons en is vir ons soos 'n kind. Ons hoop regtig dat hy nie ernstig siek is nie en dat hy gou sal herstel."
Aharon Baruch, eienaar van Baruchs koffieroostery, het bevestig dat die jongman die volgende dag uit die hospitaal ontslaan is. "Dit gaan baie beter met hom en my personeel het gister by hom gaan kuier. Hy moet nou net sy medikasie gebruik."
Inligting wat net na die voorval deur nooddienste aan Mossel Bay Advertiser verskaf is en wat daarna aanlyn geplaas is, het gesê dat die man van die dak geval het. Die korrekte inligting soos wat hierbo beskryf is, is later dieselfde aand van 'n werknemer van Baruchs gekry en aanlyn geplaas.
Mossel Bay Advertiser vra verskoning vir enige ongerief wat deur die foutiewe inligting veroorsaak is.
Baruchs koffieroostery wat al meer as 30 jaar besigheid doen in Mosselbaai.
Vorige artikel: Man behandel vir kopbeserings na val
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'