MOSSELBAAI NUUS - 'n Werknemer van die Baruchs koffieroostery in Voorbaai, het laat vanmiddag terwyl hy besig was om die roosters skoon te maak, na bewering sy bewussyn verloor en met die val sy kop teen 'n tafel gekap.
Die nooddienste was vinnig op die toneel waarna die jongman (27) met privaat ambulansdienste na die hospitaal geneem is vir verdere toetse.
Volgens Marietjie Breet, vriendin van die eienaar, Aharon Baruch, was al agt die werknemers in die winkel toe die man geval en na bewering stuiptrekkings gekry het.
"Aharon was eerste by hom en het hom gehelp en gemaklik gemaak tot die nooddienste opgedaag het."
Sy sê "Hy werk al sewe jaar by ons en is vir ons soos 'n kind. Ons hoop regtig dat hy nie ernstig siek is nie en dat hy gou sal herstel."
Die Mossel Bay Advertiser het na aanleiding van aanvanklike inligting dat die man beseer is toe hy glo van 'n dak afgeval het, met 'n werknemer van die roostery gepraat wat bevestig het dat die voorval binne in die winkel plaasgevind het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'