Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Dit is tans onduidelik wat die toekoms vir Benevolent Park inhou.
'n Storm in die kleine woed om die kop van dié nie-winsgewende instansie vir bejaardesorg op Mosselbaai.
Aantygings van beweerde swak-en-nalatige bestuur doen reeds etlike maande die ronde.
'n Swaard hang ook oor die finansiële vooruitsigte van die tehuis.
Die Mossel Bay Advertiser het in Augustus 2023 berig oor humeure wat opgevlam het by 'n vergadering waar 'n mosie van wantroue in die voormalige bestuur gestel is.
Dit het gelei tot 'n ondertekende petisie asook die nominasie én verkiesing van 'n nuwe bestuur gedurende dieselfde vergadering. Twee van dié lede het sedertdien bedank, insluitende die voorsitter, William Sam.
'n Besigheidseienaar van Mosselbaai, Herman Strydom het daarna as voorsitter oorgeneem.
Streekskoördineerder van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), Anco Barker, het egter onlangs op sosiale media te velde getrek oor wat sy sê 'n "ongrondwetlike beheerraad" is.
Barker sê die grondwet van Benevolent Park bepaal die proses vir die aanstelling van 'n nuwe raad en sê Strydom-hulle het dié bepalings nie gevolg nie.
"Niemand het die reg om die grondwet te ignoreer alvorens dit nie geldig gewysig word nie."
Interim komitee
Op 26 Januarie het Strydom 'n vergadering met die inwoners van dié tehuis belê. Ofskoon die vergadering volgens Strydom slegs vir die inwoners van die tehuis was, sê hy dit is "ontwrig" nadat 'n raadslid van die Patriotic Alliance, Faizell Porter, by die vergadering opgedaag het.
"Porter en sy gevolg het geweier om die perseel te verlaat en net harder geraas."
Die Advertiser het lys van navrae aan Faizell Porter gestuur maar hy het nie teen die ter perse gaan kommentaar gelewer nie.
Volgens Strydom is aangedring daarop dat 'n nuwe komitee gestig moet word.
Barker het bevestig dat sy deur inwoners van Benevolent Park in kennis gestel is van die vergadering.
Sy is gevra om dit by te woon om hulle te verteenwoordig. Sy was daar en beweer daar was geen ontwrigting "in die sin dat chaos uitgebreek het nie".
"Ek het saam met raadslid Elroy Baron en twee aktiviste stiptelik om 10:00 by die vergadering ingeloop. In dié stadium was daar inwoners met plakkate asook ‘n hele paar lede van die gemeenskap."
Barker sê Strydom neem eienaarskap van 'n posisie wat nie grondwetlik syne is nie.
Strydom het aan die Advertiser gesê hy het by die vergadering geen ander keuse gehad as om die saal te verlaat nie.
"Porter en sy gevolg, deeglik bewus van die onbestrede steun aan die nuutverkose beheerraad, het ongenooid opgedaag.
Die vergadering met die inwoners is doelbewus ontwrig en die inwoners is die geleentheid ontneem om te stem deur plakkate rond te swaai en allerhande slagspreuke luidkeels te skree sodat die vergadering nie kon voortgaan nie."
Volgens Barker het die vergadering voortgegaan nadat Strydom die saal verlaat het en was dit deur 'n gemeenskapslid en inwoners gelei.
"‘n Interim-komitee is aangestel. Dis belangrik om te noem dat die gemeenskap geen impak op dié verkiesing gehad het nie omdat slegs die inwoners toegelaat was om daaraan deel te neem."
Die komitee bestaan uit 'n lid van die gemeenskap, pastore en 'n inwoner.
Strydom het aan die Advertiser gesê dat hulle egter nie sal afwyk van hulle plan om Benevolent Park te red nie.
"Die beheerraad het die tehuis in slegs die eerste 100 dae honderdeduisende rande bespaar en dryf 'n effektiewe omkeerstrategie.
Kostebesparing
Strydom beweer dat hulle onder meer sedert Augustus 'n eis suksesvol beveg het na aanleiding van 'n regsgeding met kostes van sowat R500 000.
"Ons het die eis suksesvol beveg en daar is ooreengekom op 'n finale uitstaande bedrag van slegs R70 000. Dit word maandeliks afbetaal. Dit is 'n wesenlike besparing van R430 000."
Hy sê ook 'n nie-werkende inloop-yskas is reggemaak en dat hulle aan al die personeel 'n kersbonus kon betaal.
"Daar was ook nooit vantevore vanaf SARS geëis nie. Die beheerraad het dit reggestel en Benevolent Park ontvang tans R70 000 elke tweede maand van SARS."
Sentrumhoof van die tehuis, Kitty Thiele sê daar is ernstige finansiële en ander uitdagings.
"Die politieke geboelie is besig om die historiese fondamente onder ons oord uit te grawe. Smetlike politiekery en rassisme is besig om die trotse tradisie en die kultuur van verdraagsaamheid en vredeliewendheid by Benevolent Park te vernietig."
Thiele sê die huidige situasie by die tehuis "verjaag beleggers, donateurs en die res van die gemeenskap, wat die afgelope paar maande begin ondersteuning bied het."
Politieke speelbal
Barker sê die gemeenskap het VF Plus genader om hulle by te staan.
"Ek glo vas aan die beginsels van geregtigheid, regverdigheid en gelykheid. Dit is my oortuiging dat die huidige toestand waarin Benevolent Park homself bevind, grootliks te wyte is aan wanadministrasie deur die sentrumbestuurder en ander rolspelers. Ons het die probleem aangespreek en na die oppervlak gebring. Dit is wat politieke partye doen, om ongeregtigheid en onreëlmatigheid uit te wys vir hantering deur die betrokke owerhede."
Sy sê: "Benevolent Park is 'n kritieke instelling vir diegene wat dit nie kan bekostig om na 'n duur oord te gaan nie. Die feit dat dit nou in 'n kritieke toestand verkeer, raak my diep, veral omdat daar 102 inwoners is waaroor ek ernstige besorgdheid het in terme van hul toekoms."
Barker sê die situasie behoort nie 'n politieke speelbal te wees nie. "Dit grief my om te sien dat politieke inmenging so 'n groot rol speel. Die VF Plus en ander partye is betrokke by die redding van Benevolent Park. Nie vir politieke gewin nie, maar uit 'n opregte wens om te help."
Op 'n vraag oor hoe dit gaan werk noudat dit blyk daar 'n komitee en die beheerraad by Benevolent Park betrokke is antwoord Barker: "Ons weet nie. Dit kan nie werk nie. Die grondwet maak nie daarvoor voorsiening nie. Indien die huidige ongrondwetlike raad aanhou met hul pligte, wat insluit die magtiging van betalings en die teken van kontrakte, kan dit onregmatig wees en die oortreders kan dan persoonlik aanspreeklik gehou word."
Vorige artikel: Benevolent bestuur gevra om te loop
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’