MOSSELBAAI NUUS - Humeure het opgevlam by gisteraand se vergadering by Benevolent Park tehuis vir bejaardes, waar 'n mosie van wantroue in die ou bestuur gestel is.
Dit het gelei tot 'n ondertekende petisie asook die nominasie én verkiesing van 'n nuwe bestuur.
Margaret Bhana, voorsitter van die ou bestuur, het skaars met die vergadering begin toe 'n duidelik ontevrede inwoner opgestaan en verskeie klagtes geopper het.
Dié inwoner het in geen onduidelike taal die stand van die finansies bevraagteken en dit ook duidelik gemaak dat die inwoners geen insae het oor belangrike besluite, wat geneem word nie.
Daar was ook gevra of die vergadering kan voortgaan aangesien belangrike punte glad nie op die agenda verskyn het nie.
Volgens 'n vryskutfotograaf van die Mossel Bay Advertiser, Dexter Brinkhuis, wat die vergadering bygewoon het, het dinge begin hand-uit ruk, verskeie persone het uitgestap en Bhana moes die vergadering tot orde roep.
Die ouditeur van Kempton Group, Ignis Kempen, het die finansiële state voorgelê waarna die inwoners vrae gevra het en 'n bedrag van R600 000 was sterk onder die kollig.
In 2018 is 'n voormalige boekhouer van Benevolent Park deur die Valke in hegtenis geneem waarna sy in die Mosselbaai-streekhof verskyn het op aanklagte van diefstal en bedrog van meer as R600 000, wat sy na bewering oor 'n tydperk van drie jaar gesteel het.
Sy is, na wat verneem word, egter intussen vrygespreek. Die omstandighede van die voorval is nie tans aan die Advertiser bekend nie.
Kempen het ook by die vergadering bevestig dat die geld nie terug is in die rekening nie. Kempen het egter benadruk dat indien die huidige situasie sou voortduur, Benevolent Park binne 12 maande hul deure sal moet sluit.
Mosie van wantroue
'n Voorstel van die vloer vir 'n mosie van wantroue in die bestuur het daartoe gelei dat (met die opsteek van hande) die ou bestuur onmiddelik laat afstaan het en nominasies is toe ingedien vir 'n nuwe bestuur.
Ná die stemming is William Sam verkies as die nuwe voorsitter, Herman Strydom as onder-voorsitter, Kelly Fourie-Barnard as sekretaris, Milton Fillies as hulp-sekretaris en die twee addisionele lede is Sonica Weston en Gert Meiring.
Sam het met sy intreerede almal bedank vir hul stemme en die vertroue in die nuwe bestuur. "Die stoel waarop ek gaan sit is 'n baie warm stoel, veral as mens kyk na die finansies van Benevolent Park. Ek besef dat dit 'n uitdaging gaan wees om die finansies te herstel," sê Sam. Hy het egter benadruk dat dit nie oornag sal gebeur nie.
"Ons gaan ook opvolg oor die meer as R600 000 en die daaropvolgende hofsaak wat Benevolent Park sowat R286 000 aan regskostes gekos het," het Sam aan die Advertiser gesê.
Die nuwe bestuur gaan binne die volgende twee weke vergader en vroeg September die pad vorentoe met die inwoners bespreek.
Sam het ook die versekering gegee dat nie een van die inwoners hul verblyf sal verloor nie. Sam het ook bevestig dat hy graag binnekort wil begin met 'n "Red Benevolent Park-veldtog".
Dit sal projekte insluit om die finansiële posisie te verbeter. "Daar is reeds baie idees wat op die tafel is," sê hy.
Sam het verder gesê dat hulle nie die projekte kan aanpak sonder die gemeenskap nie en nooi die gemeenskap en besighede, om betrokke te raak en uit te reik sodat Benevolent Park weer op sy voete kan kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’