TUINROETE DISTRIK NUUS - Terwyl onderwysowerhede kopkrap oor die beste manier om leerders terug op die skoolbanke te kry, maak hoofde en onderwysers planne om hul skoolwerk op datum te hou.
Aanlyn-onderrig is al manier om die leerders te bereik. “Onderwysers wat wiskunde, lewenswetenskappe en Afrikaans aanbied, berei lesse op WhatsApp voor wat hulle aan die leerders stuur,” sê Richard Flores, hoof van Gerrit du Plessis Senior Sekondêr op Riversdal. Ander vakke kom ook mettertyd in plek.
“Daar is uitdagings, want baie van die leerders sukkel sonder internet en voldoende data. Van die onderwysers raak gefrustreerd, want nie al die leerders voer hul opdragte uit nie. Dis asof die leerders nie die belangrikheid van die werk insien nie. Wanneer hulle terugkeer skool toe, sal dieselfde werk weer aandag moet kry.”
Hy is bekommerd oor die terugkeerslag, al wil hy nie hê die leerders se werk moet te ver agter raak nie. “Daar is tot 45 leerders in sommige klasse en in die klaskamer sit hulle langs mekaar - daar kan nie sprake van sosiale afstand wees nie. As een of twee leerders die virus by die skool opdoen, gaan ons ’n groot probleem hê,” sê hy.
Piet de Villiers, hoof van Hoërskool Langenhoven, ervaar dieselfde probleem met leerders sonder internet en data. “Die onderwysers doen baie moeite om lesse voor te berei. Van hulle het gevorderde opleiding in e-leermetodes en hulle kan die klasse op video eerder as net in teks aanbied.” Daar is ook ’n magdom leerprogramme op internet beskikbaar vir die wat toegang daartoe het.
Die onderwysers behandel nie net die werk nie, maar gee ook tuisopdragte en huiswerk, wat die leerders per e-pos terugstuur. Die leerders word aangeraai om solank al hul voorgeskrewe boeke deur te werk. “Ek moet vir die onderwysers ’n pluimie gee - hulle werk baie hard en die leerders het ook waardering daarvoor.”
Hy is gereeld in kontak met die ouers om hulle te versoek om toe te sien dat hul kinders vasgestelde ure voor die boeke deurbring. “Vir die senior leerders is skoolwerk nogal ’n saak van erns.”
Hy is besorg oor die leerders wat bietjie sukkel en onderwysers sal ook die werk wat nou aanlyn gedoen word, in die klaskamer moet hersien.
Hy is veral bekommerd oor wanneer en hoe leerders toegelaat gaan word om terug te keer skool toe. “Daar is 30 leerders in ’n klas en dit sal moeilik wees om hulle ’n meter uitmekaar te hou. Tog is dit belangrik dat hulle so gou moontlik terugkom in die klaskamer - dis nie net vir die matrieks belangrik nie, maar ook vir die gr. 9’s wat vanjaar hul vakkeuses moet maak.”
Vivian Prins, hoof van Kairos Sekondêr, sê die onderwysers ontvang weekliks lesse van die departement se vakadviseurs wat hulle vir die leerders aanstuur. “Ons het die eerste twee weke hersiening gedoen, maar gaan van dié week af met nuwe werk begin. Die kinders werk nogal hard, maar duur data is ’n probleem.”
Volgens hom sal die 52 matrieks waar hulle byvoorbeeld vir Afrikaans en Engels almal saam moet wees, in die skoolsaal gehuisves word waar hulle die nodige afstand tussen mekaar kan handhaaf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'