Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Advokaat van Knysna wat die Mosselbaai-munisipaliteit in 'n skrywe gevra het om sekere stappe te neem nadat sy voertuig na bewering deur 'n voorwerp op Louis Fourieweg getref is, sê hy gaan nie stilbly nie, nadat hy deur die munisipaliteit se regsafdeling versoek is om nie "ongestaafde bewerings" te maak nie.
Die advokaat in die ingenieurs- en boubedryf, Chris Roos het 'n klagte gelê na die insident op Sondag, 12 Februarie om ongeveer 14:00.
Hy en sy vrou, Ludell was op pad terug van 'n vroeë Valentynsete toe hulle 'n harde slag gehoor het en daarna die gat in die windskerm gesien het.
Roos sê hy het tientalle oproepe van ander inwoners en motorbestuurders gekry met wie dieselfde gebeur het. Die Mossel Bay Advertiser se Facebook-blad is oorval deur mense wat kommentaar lewer oor die aangeleentheid, ook van hul eie noue ontkomings vertel en wat pleit dat iets aan die situasie gedoen word.
In die brief sê die Mosselbaai-munisipaliteit dat hulle altyd daarna streef om gemeenskapsveiligheid te bevorder en reeds verskeie inisiatiewe geloods het wat noue samewerking met die plaaslike polisie insluit. Roos sê wat hom pla is dat hulle aandui dat dit 'n 'beweerde' voorval is. Hy sê dit het gebeur.
Die regsfirma het Roos ook in hul skrywe versoek om nie ongestaafde bewerings oor hulle kliënt op sosiale media netwerke te plaas nie.
Voorts sê hulle dat die insident betreurenswaardig is en dat hulle hoop die polisie 'n spoedige deurbraak sal maak.
Nie 'n geïsoleerde insident
Roos sê hy het reeds teruggeskryf aan die munisipaliteit se prokureurs waarin hy kennis neem van hul skrywe, maar met ongelukkigheid. "Ek gaan nie stil gehou word oor die insident nie.
Ek beskou dit as my plig om die inwoners van en besoekers aan Mosselbaai ingelig te hou.
Hulle praat van 'n enkele insident, maar as 'n mens na die meer as 400 kommentare en 2 000 views kyk op die Facebook blad, spreek dit vanself dat dit nie net 'n geïsoleerde insident is nie, maar terugdateer na ongeveer ses jaar gelede. Ek het 'n aangesig-tot-aangesig besoek met hulle kliënt aangevra en dat hulle my ook in besit moet stel van die gemeenskapsinisiatiewe en veiligheidsaksies wat geneem is. Dit is tog nie nodig om dit as 'n geheim te hou nie? Dit kan openbaar gemaak word. Ek gaan nie stilbly nie, ek sien dit as my plig."
Neem verantwoordelikheid
Roos sê dat hierdie nie 'n aksie is tussen hom en die Mosselbaai-munisipaliteit nie, maar 'n situasie waar hy hulle tot verantwoording moet bring om met spoed op te tree om risiko's en insidente aan te spreek vir almal se beswil.
Roos het bygevoeg dat die voorwerp wat hul motor getref het, dalk nie deur 'n klip of baksteen veroorsaak is nie.
"Ons spekuleer dat die gat in die voorruit meer deur 'n harde, ronde klein voorwerp, soortgelyk aan 'n koeël, veroorsaak is. Roos sê hulle het net 'n harde slag gehoor toe die voorwerp die motorruit getref het. Die Da Gamaskop-polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Ebrahim Kapp, het bevestig dat 'n saak van opsetlike saakbeskadiging geopen is, ná die voorval waarin die voertuig se voorruit beskadig is.
Kapp vra dat enige lid van die publiek met inligting oor die voorval na vore sal kom. Die ondersoekbeampte, speurdersersant Deuthine Vaas kan op 044 606 2221 gekontak word.
Vorige artikel: Advokaat vra vir aksie na 'hotspot' sy voorruit eis
Die gat in die voertuig se voorruit nadat 'n harde voorwerp dit getref het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'