Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - 'n Advokaat in die ingenieurs- en konstruksiebedryf wie se motor-voorruit op Sondag, 12 Februarie na bewering deur 'n baksteen op Louis Fourieweg getref is, het die Mosselbaai-munisipaliteit 48 uur gegee om sekere vereistes na te kom.
Die gedeelte van Louis Fourieweg waar die voorval skynbaar plaasgevind het, is onder die Isinyoka informele nedersetting by De Bakke geleë en word gekenmerk as 'n misdaad-brandpunt in Mosselbaai.
'n Groot getal voetgangers, drawwers en fietsryers is al op dié gedeelte van die pad aangeval en beroof.
Wat Sondag begin het as 'n vroeë romantiese Valentynsdag-ete by 'n seekos restaurant in Mosselbaai se hawegebied, het vir Chris Roos en sy vrou, Ludell, van Knysna in 'n angswekkende ervaring geëindig.
Roos sê hulle was te geskok om, om te draai en het huis toe gery en 'n saak by die Knysna-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saaknommer is intussen oorgedra na die Mosselbaai-polisiestasie toe.
Ope brief
Roos het besluit tot hiertoe en nie verder nie. Hy het 'n ope brief aan die Mosselbaai-munisipaliteit gerig, wat hy ook op Facebook geplaas het, waarin hy die munisipale bestuurder en die burgemeester vra om binne 48 uur sekere vereistes na te kom.
Roos het Sondag ook 'n Facebook-plasing oor die voorval gemaak en is oorval deur honderde mense wat getuig van hul eie ervarings.
Hy voel dat waarskuwingsborde op die pad geplaas moet word om mense in te lig van die risiko. Roos sê hy verstaan dat dit moeilik is om informele nedersettings te polisieer, maar voel dat iets gedoen moet word.
Volgens Roos is dit kommerwekkend dat daar nie groter samewerking tussen die polisie, die Mosselbaai-munisipaliteit en die gemeenskap se veiligheidsorganisasies is nie. "Andersins sou hulle gekyk het na misdaadstatistieke wat brandpunte uitwys en hulle beplanning daarvolgens doen."
Roos sê die probleem strek oor jare en moet aangespreek word.
Hy sê: "Doen die munisipaliteit niks aan die saak nie en daar is verlies aan lewens en eiendom, gaan hulle siviel en krimineel aanspreeklik gehou word. Die probleem het 'n geweldige impak op mense in die area, toerisme en op besigheidsgeleenthede." Roos het ook 'n brief aan die premier van die Wes-Kaap gestuur met sy klagte.
Munisipale repliek
Die Mosselbaai-munisipaliteit het ontvangs van Roos se ope brief erken. Dit is deur die regsdienste-afdeling binne die kantoor van die munisipale bestuurder vir repliek verwys.
Munisipale bestuurder, Colin Puren sê: "Die munisipaliteit neem erns met gemeenskapsveiligheid soos gereeld in die media berig word.
"Die munisipaliteit onderneem ook gereelde skakeling met al hul vennote in die veiligheidsektor, onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens, met wie daar 'n besonder goeie verhouding bestaan."
VIDEO - Chris Roos oor die insident op Louis Fourie-weg toe 'n baksteen sy motor se voorruit getref is.
VIDEO - Chris Roos, oor die ope brief aan die Mosselbaai Munisipaliteit na baksteen deur sy voorruit.
Die skade aan die voorruit nadat 'n baksteen dit getref het.
Chris Roos, advokaat in die ingenieurs- en konstruksiebedryf staan by sy motor naby die plek waar 'n baksteen sy motor se voorruit Sondag, 12 Februarie getref het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'