Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Hierdie naweek trek een van die bekendste Afrikaanse families, die Malans, vir die 57ste keer saam om weer die bande te smee hernieu, nuwe lede te verwelkom en hul ryk tradisies te vier. Boonop word daar dan sommer algemene jaarvergadering van hul maatskappy gehou.
Die 2019-saamtrek vind by die Diaz Strand Hotel op Mosselbaai plaas.
Volgens Willem Malan, een van die ouer garde, is dit 'n hoogtepunt elke jaar vir die Malans om bymekaar te kom. Die byeenkoms word moontlik gemaak deur die opbrengs van 'n maatskappy wat destyds op die been gebring is om vir die matriarg, ouma Magel, op haar oudag te sorg.
Die storie het sy ontstaan kort na die Anglo-Boereoorlog gehad toe 'n groep Malans Tanzanië toe getrek het om weg te kom van die oorlog se nagevolge. Tanzanië, die destydse Duits-Oos-Afrika, was 'n kolonie van Duitsland. Baie Afrikaners wou so ver moontlik wegkom van die Engelse af.
In 1961 het Tanzanië 'n onafhanklike sosialistiese staat geword en sodoende is baie mense hulle plase kwyt. Teen daardie tyd was oupa Willem Du Toit Malan (1890-1959) en ouma Magel Maria (van Landsberg 1895-1981) se vyf kinders terug in Suid-Afrika waar hulle kon skoolgaan en later ook universiteit toe is. Na Oupa se afsterwe is die geld, wat in die boedel beskikbaar was, gebruik om 'n maatskappy te stig sodat die opbrengs van die beleggings vir die ouma kon sorg en ook aangewend kon word om die familie een maal 'n jaar bymekaar te laat kom.
Kyk 'n video hieronder:
Die "vyf bene van die familie" oftewel familie van die vyf kinders van oupa en ouma Malan, maak beurte om die saamtrek oraloor Suid-Afrika aan te bied. Vanjaar is dit die Wynand Malan-been se beurt. Een van sy dogters (Margareta van Schalkwyk en haar gesin) hou al die afgelope 14 jaar op Diasstrand vakansie.
Die saamtrek wat tans by Diasstrand plaasvind is dan ook die grootste een tot op hede. Die Malans het behoorlik hierdie week Mosselbaai op horings geneem en alles wat die dorp bied met mekaar gedeel.
•Sover die Mossel Bay Advertiser kon vasstel, is hierdie 'n unieke gebeurtenis waartydens 'n familie reeds 57 jaar (sonder uitsondering) elke jaar bymekaarkom.
Die Malan-saamtrek hierdie week by die Diaz Strand Hotel in Mosselbaai. Bykans twee derdes van die uitgebreide familielede woon die saamtrek by. Dit is dan ook die meeste lede wat die afgelope 57 jaar by so 'n saamtrek was.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'