MOSSELBAAI NUUS - 'n 18-jarige seun van Hartenbos is gisteroggend, Donderdag 1 Oktober, op aanklagte van die besit van kinderpornografie asook die blootstelling van 'n kind aan pornografie gearresteer.
Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe se bevelvoerder, kapt. Franco Bestbier, het hom by 'n perseel in Kompanjelaan, Hartenbos, in hegtenis geneem.
Volgens die polisie het die seun na bewering meer as 50 eksplisiete foto's van jong kinders op sy selfoon gehad.
Die polisie is van die voorval in kennis gestel nadat die tiener glo vir 'n 12-jarige meisie in Gauteng 'n foto van 'n man wat seksuele dade met 'n kind pleeg, gestuur het. Die meisie het die foto vir haar ma gewys, wat die saak toe by die betrokke owerhede aangemeld het.
Maande se deeglike ondersoekwerk het vandeesweek tot die seun se arrestasie gelei. Hy sal na verwagting vandag, 2 Oktober, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Na aanleiding van hierdie voorval het die polisie ouers en voogde aangeraai om hul kinders se aktiwiteite op internet en sosiale media te monitor, 'n oop en eerlike verhouding met hul kinders te bevorder, en hulle daarvan bewus te maak dat daar gevaarlike mense aanlyn voorkom en dat seksuele oortreders van verskillende ouderdomme en geslagte kan wees.
Klik hier om aanlyn veiligheidswenke vir ouers te kry om te help om hul kinders veilig te hou.
Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe se bevelvoerder, kapt. Franco Bestbier, neem die tienerseun in hegtenis. Foto: Chelsea Pieterse
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’