Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het Woensdagoggend 'n groep lede van die werkersvakverbond SAMWU (South African Municipal Workers' Union) te woord gestaan toe hulle 'n beswaarskrif aan hom oorhandig het. Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, is met siekverlof.
'n Groep SAMWU-lede het na die munisipale hoofgebou in Marshstraat geloop om onder meer beswaar aan te teken teen die TASK-personeel-evalueringstelsel wat landwyd in plaaslike owerhede toegepas word.
SAMWU eis dat alle algemene personeel op dieselfde T-gradering geplaas word en dat 'n forensiese ondersoek geloods moet word na die wyse waarop die stelsel geïmplementeer word. Die TASK-personeelevalueringstelsel is op nasionale vlak beding en van toepassing op alle plaaslike owerhede.
Werkers het die munisipale bestuurder sewe dae geleentheid gegee om op griewe te antwoord.
Werkers het benewens die personeelevalueringstelsel verskeie ander kwessies geopper soos die herstruktueringsprosesse binne die munisipaliteit.
Daar is 'n beroep gedoen dat beter omgesien moet word na die nooddienspersoneel, insluitend die personeel van die brand-, redding- en rampbestuursdienste, die munisipale wetstoepassers en verkeersdienste.
Die vakbond het kapsie gemaak teen wat hulle ervaar as 'n viktimisasie van vakbondlede en shop stewards.
Fotogalery: 3 Optogte in Mosselbaai
Verskeie ander personeelbestuurskwessies is in die beswaar-skrif aangespreek, onder meer dat kontrakwerkers permanent aangestel moet word en dat daar herbesin moet word oor werwing- en keuringsbeleid, in samewerking met die vakbonde.
SAMWU het gewaarsku dat 'n volskaalse staking onbepaald sal volg indien hul besware nie aangespreek word nie.
Dinsdag
Woensdag se optog het gevolg op 'n gemeenskapsoptog deur inwoners van New Rest in Aslapark op Dinsdagoggend, 11 Februarie.
Die groep het kommer oor behuisingskwessies uitgespreek en is onder meer deur verteenwoordigers van die departement van menslike nedersettings van die Wes-Kaapse regering in George toegespreek.
Die grootste klagte is die gemeenskap se ongelukkigheid met 'n kontrakteur wat na hul mening aangestel is om die 285 huise wat vir die gebied goedgekeur is, te bou.
Betogers het dit duidelik gemaak dat hulle besef dat die provinsiale regering verantwoordelik is vir die ontwikkeling van behuising en nie die munisipaliteit nie. Hulle het gevra het vir beslissende terugvoering, beide wat die aantal huise betref, asook die finale aanstelling van die kontrakteur en het sterk menings uitgespreek oor hul keuse van kontrakteur.
Daar is aan die groep verduidelik dat die beswaarskrif wat hulle opgestel het, dringend met die provinsiale owerhede bespreek sou word.
Die direkteur van die departement menslike nedersettings in die Tuinroete, Mfundo Taliwe, het aan die gemeenskap verduidelik dat die behuisingsprojek wel uit 285 huise sal bestaan. Weens begrotingsbeperkings word die projek egter in fases aangepak, waarvan die eerste 50 binnekort opgerig sal word.
'n Terugvoervergadering word vir 3 Maart beplan wanneer die betrokke provinsiale departement die gemeenskap van antwoorde sal voorsien.
Paaie gesluit
'n Derde optog op Donderdag, 13 Februarie deur lede van SANCO (South African National Civic Organisation) het ook daartoe gelei dat dele van Marshstraat vir verkeer gesluit moes word.
Ongeveer 1500 betogers het aan die optog deelgeneem.
'n Gesamentlike beheersentrum het sedert 05:00 Donderdagoggend die gebeure fyn dopgehou te midde van gerugte dat onrus verwag word.
In reaksie op die optog, het 'n sporadiese voorval van padversperring by Sonskynvallei plaasgevind. Die R328 was tydelik gesluit, maar is spoedig vir verkeer oopgestel.
"Munisipale verkeersbeamptes, wetstoepassers, polisielede van die KwaNonqaba-polisie en die openbare orde polisie-eenheid van George het uitsonderlike werk verrig om die paaie wat vir die optogte gebruik was vir verkeer so toeganklik as moontlik te hou," sê die munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
Teen druktyd was die optog steeds aan die gang en verdere inligting aangaande die samesprekings met die munisipaliteit, nie beskikbaar nie.
Donderdagoggend het ongeveer 1500 betogers aan 'n optog van SANCO (South African National Civic Organization) deelgeneem.
Die werkersvakverbond SAMWU (South African Municipal Workers' Union) het Woensdag 'n beswaarskrif by die munisipale gebou oorhandig. Foto's: Jannie du Plessis
Lees verwante artikels:
- Protestors head home
- Opvolg: Optog in Mosselbaai
- Update: Sanco march in Mossel Bay
- "Schools must stay open during SANCO march"
- Update: Road closures
- 3 Planned mass marches
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'