TUINROETE | KAROO NUUS - Hierdie reeks artikels saamgestel deur Kobus Heyns* verduidelik presies hoe plaaslike regering behoort te funksioneer.
Met die oog op die verkiesing op 1 November, word dit as 'n diens aan ons lesers in drie dele gepubliseer. Knip dit uit en bêre dit veilig. Die vorige artikel het op 14 Oktober verskyn en die laaste deel verskyn op 28 Oktober.
DEEL 2
Hoe kan inwoners aan munisipale prosesse deelneem?
Demokrasie beteken "regering deur die mense". Plaaslike regering speel 'n sleutelrol in die fasilitering van openbare deelname. Stelsels vereis dat munisipaliteite gemeenskappe betrek in besluitnemingsprosesse en om met die gemeenskap te konsulteer en saam te werk. Verantwoordelike burgers is gemeenskapslede wat aktief deelneem aan die besef van hul regte en in die vervulling van hul pligte. Die reg op openbare deelname vereis dat enige openbare administrasie, insluitende munisipaliteite, deelnemende demokrasie op die basis van ingeligte en bemagtigde burgerskap bevorder. Burgers het die reg op deurlopende interaksies met die mense wat hulle verkies het.
Munisipaliteite moet 'n kultuur van gemeenskapsdeelname bevorder deur:
- meganismes, prosesse en prosedures vir gemeenskapsdeelname te skep;
- inligting te verskaf;
- kennisgewing van vergaderings en ander geleenthede;
- die publiek toe te laat om vergaderings by te woon;
- dokumentasie aan die publiek te verskaf; en
- 'n webwerf te skep.
Inwoners het nie net regte nie, maar ook verantwoordelikhede:
- hulle moet die munisipale prosesse nakom;
- munisipale dienste-rekeninge betaal;
- die regte van gemeenskapslede respekteer;
- munisipale personeel op hul eiendom toelaat; en
- munisipale verordeninge gehoorsaam.
Die wykskomitees is 'n belangrike manier vir die publiek om te kommunikeer. As inwoners probeer om te kommunikeer, maar misluk het, kan hulle ook petisies voer en aan vreedsame betogings deelneem.
Wanneer inwoners aanbevelings, voorstellings en ander aanbiedings aan die munisipaliteit doen, het hulle die reg om vinnige antwoorde te ontvang. Deelnemende demokrasie as 'n instrument om die bestuur deur middel van deursigtigheid en aanspreeklikheid te verbeter, is noodsaaklik. Gemeenskappe het die reg om in verkiesings te stem en die samestelling van hul munisipale rade te wysig indien hulle ontevrede is.
Daar is twee soorte raadslede in 'n munisipale raad: wyk- en proporsionele raadslede. Alle plaaslike en metropolitaanse munisipaliteite is in wyke ingedeel. 'n Wyksraadslid verteenwoordig 'n spesifieke wyk op die munisipale raad. Die kandidaat wat die meeste stemme in die wyk kry met 'n verkiesing, is die wenner en word dan die wyksraadslid. 'n Wyksraadslid dien as die voorsitter van die betrokke wykskomitee.
Proporsionele raadslede verteenwoordig 'n politieke party op die munisipale raad en word deur middel van die stelsel van “proporsionele verteenwoordiging” verkies. In hierdie stelsel nomineer die politieke party sy kandidate vir die partylys. Die getal stemme wat ’n party ontvang, bepaal die getal kandidate wat ’n politieke party sal hê.
Die pligte van 'n raadslid is:
- om die mense in die munisipaliteit te verteenwoordig en saam te werk met ander raadslede in die beste belang van die gemeenskap.
- om die behoeftes van die gemeenskap aan die munisipale raad en die stadsraad prosesse kommunikeer.
- om vergaderings voor te berei en by te woon.
- om die prestasie van die munisipaliteit te monitor;
- om probleme met die betrokke liggame aan te meld en
- om terugvoering te gee oor die munisipaliteite se prestasie
Raadslede moet die gedragskode volg wat insluit dat inligting nie bekend gemaak word aan mense wat onregverdig daaruit kan baat nie.
Die termyn van 'n munisipale raad is hoogstens vyf jaar, soos deur nasionale wetgewing bepaal. Indien'n munisipale raad ingevolge nasionale wetgewing ontbind word, of wanneer sy termyn verstryk, moet 'n verkiesing gehou word binne 90 dae vanaf die datum waarop die raad ontbind is of sy termyn verstryk het.
Bronne: Dr. Harlan Cloete, buitengewone lektor by die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch se navorsing oor munisipale bestuur.
Hoofstuk 7: Plaaslike Regering (artikels 151-164) wetgewing.
* Saamgestel deur Kobus Heyns - in sy eie woorde - 'n besorgde Suid-Afrikaner.
"Ek is nie verbonde aan enige politieke organisasie of beweging nie. Ek is 'n voormalige Namibiër en Suid-Afrikaanse inligtingsbeampte met eerstehandse ervaring en kennis van politieke en sosio-ekonomiese transformasieprosesse op grondvlak. 'n Besorgde burger wat elke dag poog om 'n positiewe verskil in gemeenskappe te maak."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'