Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 30-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op 'n man van Hartenbos, Desmond Share (53) sal na verwagting op Maandag, 25 Maart in die Mosselbaai-landdroshof om borgtog aansoek doen.
Shadreck Mhetu is reeds in Augustus 2023 in hegtenis geneem en het aanvanklik aangedui dat hy nie om borgtog wil aansoek doen nie. In November 2023 het hy egter aangedui dat hy wel wil borgtog kry.
Omdat hy oorspronklik van Zimbabwe is, het die hof 'n tolk nodig om die prosedures te verduidelik en die saak is intussen weer uitgestel omdat daar tydens sy vorige verskyning nie 'n tolk beskikbaar was nie.
Share, 'n plaaslike sakeman, se liggaam is op Saterdag, 5 Augustus, tussen bosse naby Albertinia gekry, nadat hy vir dae lank vermis was. Sy bakkie is gesteel en is etlike dae ná sy moord op Ficksburg naby die grens van Lesotho gevind. Share het veelvuldige beserings opgedoen.
Geld is ook uit sy bankrekening onttrek. Mhetu is kort na die voorval in hegtenis geneem in Du Noon in Kaapstad en staar aanklagte van moord, ontvoering en kaping in die gesig.
Twee mans wat destyds naby die grens in Share se bakkie gevind is, is in hegtenis geneem maar word nie met die moord verbind nie.
Nóg 'n lasbrief is op 12 Desember deur die Mosselbaai-landdroshof uitgereik vir die inhegtenisname van Danzel Talent Alkulethi, ook bekend as Akwiriano, wat glo by Share se verdwyning betrokke was en nog twee verdagtes, Shown Gondo (31) en sy broer, Akim Gondo (25), ook Zimbabwiers, is steeds op vrye voet.
Vorige artikels:
- Desmond Share se bakkie gevind
- Inwoners teken petisie teen Share-verdagte se borg
- 1 in hof vir moord op Share
- Verdagte in hof vir moord op Desmond Share
- Desmond Share se dood bevestig
- Vermiste man se bril gevind
- Vermiste man se voertuig op kamera gesien
- Hartenbos-sakeman word vermis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’