Sponsored Content
MOSSELBAAI NUUS - Die onlangse uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Fitzpatrick v Latsky N.O. en Andere dui op ’n beduidende heroorweging van risiko, verantwoordelikheid en verwagtinge in die Suid-Afrikaanse residensiële eiendomsmark.
Terwyl die feite gefokus het op die ineenstorting van ’n houtdek maande nadat oordrag plaasgevind het, bied die Hof se oorwegings breër leiding oor vier kritiese areas:
- die betekenis van bemarkingstaal,
- die omvang van ’n eiendomsagent se pligte en aanspreeklikheid,
- die toepassing van die voetstoots klousule, asook
- die beperkings van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 (VBW) in privaat verkope.
Bemarkingstaal: duidelike skeidslyn tussen feite en “mooipratery” (“puffery”)
’n Sentrale kwessie was of die beskrywing van ’n eiendom as “pragtig” of “mooi” op ’n wanvoorstelling neerkom. Die Hof het ’n duidelike onderskeid getref tussen feitelike bewerings en subjektiewe bemarkingstaal. Terme soos “pragtig” is niks anders nie as estetiese lofbetuigings — gewone mooipratery — eerder as voorstellings van strukturele integriteit of veiligheid.
Hierdie is ’n kritieke bevinding vir die eiendomsbedryf. Kopers heg dikwels groot waarde aan ’n eiendomsagent se beskrywings, veral waar die agent ervare is.
Die uitspraak bevestig egter dat tensy bemarkingstaal duidelik lei tot bewerings wat objektief bevestig kan word (byvoorbeeld, “struktureel sonder gebrek” of “ten volle in ooreenstemming met planne”), dit gewoonlik nie aanspreeklikheid van die eiendomsagent of verkoper sal daarstel nie.
Die implikasie is dat kopers versigtig moet wees om algemene bemarkingstaal te vertolk as ’n waarborg van kwaliteit of veiligheid.
Eiendomsagente: geen plig om verdere ondersoek in te stel
Die uitspraak versterk ook ’n beperkende siening van ’n eiendomsagent se regsverpligtinge. Die Hof het bevestig dat ’n agent se openbaringsplig beperk is tot wesenlike feite binne hul persoonlike kennis. Daar is geen algemene verpligting om tegniese inspeksies uit te voer of verborge gebreke op te spoor nie.
Hierdie bevinding verwerp die groeiende neiging om eiendomsagente te sien as quasi deskundiges in konstruksie of bouregulasies. Hul rol bly dié van ‘n tussenpersoon, primêr gemoeid daarmee om die transaksie te fasiliteer en te openbaar wat binne hul persoonlike kennis strek, nie om te verifieer wat hulle nie weet nie.
Vir kopers beklemtoon dit die belang van onafhanklike inspeksies en vir agente bied dit die gerusstelling dat aanspreeklikheid nie bloot sal ontstaan uit die versuim om verborge gebreke uit te snuffel wat selfs deur deskundiges misgekyk kan word nie.
Voetstoots-klousules: Steeds robuus, maar nie absoluut nie
Die uitspraak bevestig die voortgesette belang van voetstoots klousules in die Suid-Afrikaanse reg. ’n Koper wat so ’n klousule wil ontsnap, moet steeds bewys dat die verkoper werklike kennis van ’n verborge gebrek gehad het en dit opsetlik verswyg het met die bedoeling om te bedrieg.
Die bewyslas bly egter hoog, met die hof wat beklemtoon dat bedrog nie ligtelik geneem word nie.
Belangrik is dat die hof die siening verwerp het dat die blote bestaan van vorige herstelwerk of “vinnige herstellings” (“quick fixes”) voldoende is om vooraf kennis van gebreke daar te stel. Selfs beduidende strukturele gebreke wat na oordrag manifesteer, het op sigself nie bedrieglike nie-openbaarmaking daargestel nie. Die Hof bevestig dus dat voetstoots klousules beskerming bied vir verkopers tensy duidelike en bewysbare oneerlikheid teenwoordig is.
Die VBW het beperkte toepassing in privaat eiendomstransaksies
Miskien die mees kommersieel beduidende aspek van die uitspraak is hoe die VBW (Verbruikers Beskerming Wet) hanteer word. Op sterkte van ‘n korrekte interpretasie van artikel 5(2)(b) van die VBW bevestig die Hof dat eenmalige privaat verkopers buite die reikwydte van die VBW val.
Gevolglik is verskeie van die Wet se verbruikersbeskerming klousules waarop kopers gereeld staatmaak eenvoudig nie van toepassing in residensiële eiendomstransaksies tussen privaat partye nie.
Selfs waar ’n eiendomsagent betrokke is, vereis die VBW bewys van ’n wesenlike oortreding, soos misleidende gedrag. In die onderhawige geval het die afwesigheid van ’n bewese wanvoorstelling beteken dat die VBW-eise ook misluk het.
Die Hof het verder bevind verder dat artikel 61 (produk aanspreeklikheid) beperk is tot voorsieningskettings (“supply chains”) en nie uitgebrei kan word na eiendomstransaksies nie.
Gevolgtrekking
Saamgevat dui die uitspraak op ’n verskuiwing terug na die tradisionele gemeenregtelike beginsels in eiendomstransaksies. Kopers dra die primêre verantwoordelikheid vir behoorlike ondersoek terwyl agente se aanspreeklikheid berus op eerlikheid, nie kundigheid nie.
Verkopers bly beskerm deur voetstoots klousules tensy bedrog bewys kan word en die VBW geniet bloot beperkte toepassing in privaat verkope.
Vir die Suid-Afrikaanse eiendom landskap bevorder die beslissing regsekerheid, maar plaas dit ook ’n swaarder praktiese las op kopers om ‘n behoorlike, tydige ondersoek te doen na die ware toestand van ‘n aantreklike eiendom.f Form
Enige eiendomsvrae? Gesels met iemand wat eiendom vlot praat. Kontak Tonkin Clacey Mosselbaai by 044 – 220 0240 of loer in by 27 Marshstraat vir ‘n gratis eerste konsultasie en uitstekende koffie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’