Video
HARTENBOS NUUS EN VIDEO - As jy na jou naaste horlosie en kalender kyk, sal jy sien dit is reeds verby 08:30 op Vrydag 31 Julie.
Dít beteken jy kan amptelik weer die ATKV Hartenbos se verhitte swembad by die Hartenbos Seefront besoek.
“Ná dit vir ’n tydperk gesluit is, is die swembad nou gereed om weer gesinne, vakansiegangers en dagbesoekers te verwelkom,” lui ’n verklaring wat die ATKV Hartenbos op Woensdag 29 Julie uitgereik het.
Toegangsfooie en besoektye
Die bestuur het verder by navraag bevestig dat persone met verblyf by die ATKV Hartenbos gratis toegang tot die swembad geniet. Vir enige ander besoekers in dit R40 vir ’n sessie van twee uur.
“Daar sal swemkaarte by die kantoor en verhitte bad beskikbaar wees. Hoe meer sessies jy koop, hoe goedkoper werk hulle uit.”
Die swembad maak dwarsdeur die jaar om 08:30 oop, maar die toemaaktye verskil afhangende van seisoen en dag.
- Buite seisoen en gedurende die Junie-/Julie-vakansie word die swembad 18:00 van Sondag tot Donderdag gesluit. Vrydae en Saterdae word dit 20:30 gesluit.
- Gedurende die Oktober-vakansie sluit dit van Maandag tot Sondag om 20:30.
- In die Desember- en Maart-/April-vakansie sluit dit Maandag tot Saterdag om 22:00 en Sondag om 20:30.
- Oor langnaweke in die somer maak die swembad om 22:00 toe en in die winter om 20:30.
VIDEO: Só lyk dit by die ATKV Hartenbos verhitte swembad
Video: Linzetta Calitz
Hoekom was die bad gesluit?
Mossel Bay Advertiser het in Maart vanjaar oor die heropening van hierdie fasiliteit berig. In daardie stadium het die betrokke partye gesê die herstelwerk was in die finale fases. Die swembad is in September 2024 weens strukturele probleme met die dak gesluit.
Die waterbeperkings vir Mosselbaai was gedurende Maart nog in plek, en toestemming om die swembad te vul is op 6 Maart van die Mosselbaai-munisipaliteit verkry.
Met die munisipale goedkeuring in plek sou “verdere werk nodig wees om die gebou, swembad en verhittingstelsel tot ’n ten volle operasionele toestand te herstel,” het die ATKV in ’n vorige kennisgewing gesê.
Alles is egter nou weer in ’n werkende toestand, en talle inwoners en vakansiegangers het reeds gesê hoe opgewonde hulle is om weer die fasiliteit te kan gebruik.
“Ons sien ongelooflik daarna uit om hierdie geliefde fasiliteit weer aan ons gaste beskikbaar te stel. Die verhitte swembad was nog altyd ’n besondere trekpleister, veral gedurende die koeler maande,” sê Mornay Beukes, ATKV Hartenbos se oordbestuurder.
Vorige artikels:
- Goeie nuus oor Hartenbos Seefront/ATKV se verhitte swembad
- Datum vir heropening van Hartenbos-verhitte swembad bevestig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’