MOSSELBAAI NUUS - Die herstelwerk aan die verhitte swembad by die Hartenbos Seefront is in die finale fases.
Beide die Seefront en die ATKV Hartenbos het bevestig die swembad sal inderdaad weer geopen word.
“Weens die huidige waterbeperkings moes ons eers formele toestemming van die Mosselbaai-munisipaliteit verkry om die swembad ná die voltooide herstelwerk te hervul.
“Met hierdie goedkeuring op hande beplan ons om die swembad weer beskikbaar te hê sodra alles in plek is,” sê Seefront se bemarker, Amandi Lindeque.
Die munisipaliteit het sy toestemming bevestig en gesê dit volg ná “oorweging van ’n omvattende motivering”.
Die swembad word deur die Hartenbos Seefront aan ATKV Hartenbos verhuur. Dié fasiliteit weens strukturele probleme met die dak is in September 2024 gesluit.
Die verhitte swembad by Hartenbos Seefront ’n hele paar jaar gelede. Fotobron: Hartenbos Seefront/Facebook
ATKV Hartenbos se finansiële bestuurder, Werner Kock, sê die munisipale toestemming om die swembad te vul is verlede Vrydag 6 Maart verkry.
Daar is egter nog heelwat wat moet gebeur voor die swembad verhit en gereed vir die publiek sal wees, sê hy. Hulle kan dus nog nie ’n amptelike datum gee wanneer die inwoners en vakansiegangers weer van die swembad gebruik sal kan maak nie.
Só lyk dit tans by die verhitte swembad by Hartenbos Seefront. Foto’s: Linzetta Calitz met toestemming van Hartenbos Seefront
“Daar word ’n groot poging aangewend om die verhitte swembad, in ag genome herstelwerk wat nog gedoen moet word, so spoedig moontlik te heropen,” sê Kock.
Volgens ’n kennisgewing op die ATKV se webblad word die heropening tans op ’n latere stadium in 2026 verwag, indien die projek volgens plan verloop. “Die veiligheid van ons gaste bly te alle tye ons hoogste prioriteit,” lui die kennisgewing.
Met die munisipale goedkeuring nou in plek “sal verdere werk nodig wees om die gebou, swembad en verhittingstelsel tot ’n ten volle operasionele toestand te herstel. ATKV Hartenbos sal die verhitte swembad weer aan gaste beskikbaar stel sodra alle konstruksiewerk veilig en volledig voltooi is,” sê die ATKV in sy kennisgewing.
Talle inwoners sien uit na hierdie heropening. ’n Ouer van Hartenbos, Janita Albertyn, sê haar twee dogtertjies, Sophia (11) en Dalene (9), het swemlesse by dié swembad gehad toe dit nog in gebruik was.
Die Albertyn-sussies, Dalene (links) en Sophia (regs), saam met hul swemafrigter Bronwyn Macdonald in die verhitte swembad toe dit nog oop was. Foto‘s: Verskaf
Hulle het ook destyds aan galas deelgeneem, maar het weens die swembad se sluiting hierdie buitemuurse aktiwiteit vir eers gestaak.
Janita hoop kleinboet Henry (6) kan ook nou die kans vir lesse en swem as ’n sport kry wanneer die swembad weer oopgemaak word.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’