MOSSELBAAI NUUS - Van ’n krygsgevangene se plakboek oor die Anglo-Boereoorlog tot die mens se soeke na die genesing van siektes en besering - dit is maar van die temas wat in twee Mosselbaaiers se filatelieversamelings vervat is.
’n Ongelooflike hoeveelheid van die wêreld se geskiedenis lê in sy verskillende pos-elemente opgesluit, hetsy posstempels, briewe, seëls, poskaarte en meer.
Filatelie vat al dié elemente saam, en plaaslik is Die Posboom-filatelievereniging en sy lede se wye reeks versamelings Mosselbaai se eie ryk bron van Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis.
Die vereniging het vanjaar sy 60ste bestaansjaar gevier, en Mossel Bay Advertiser het by die voorsitter, Gerrie Conradie, en tesourier, Pieter Meyer, gaan aanklop. Conradie het al ’n nasionale Groot Goue-toekenning vir haar ‘Man’s Quest to Heal Illness and Injury’-uitstalling gekry en Meyer ’n nasionale Groot Silwer-toekenning vir sy uitstalling, ‘Plakboek van ’n krygsgevangene’.
Van skoolseunversameling tot Singapoer
“Filatelie gaan nie net oor seëls wat in ’n album versamel word nie - ek dink dis wat die mens op straat dink,” sê Conradie, wat al sedert 1990 ernstig versamel.
Toe sy in Odendaalsrus gewoon het en haar kinders eers op hoërskool was, het sy iets gesoek wat vir haar ’n uitdaging sou wees.
“Ons het ’n predikant daar gehad wat ek geweet het seëls versamel, toe vat ek my (ons noem dit ’n school boy collection) boekie met my paar seëltjies, wat ek versamel het toe ek nog klein was, na hom toe en ek sê: ‘Dis wat ek het - waar begin ek?’ Toe maak hy die boekie so toe en hy kyk my so en sê vir my: ‘Wat is vir jou interessant? Waarin stel jy belang?’’’
Ná Conradie toe haar belangstelling in die mediese veld deel, “trek hy sy laai so oop en hy haal die Transkei se seëltjies van die Heroes of Medicine uit, en dis waar dit begin het.”
Dié reeks van agt uitgawes het in 1982 begin, en het gehandel oor mense in die geskiedenis wat ontdekkings op mediese gebied gemaak het. Dit het onder meer seëls ingesluit van mense soos Hippokrates, die vader van medisyne, Antonie van Leeuwenhoek, die vader van die mikroskoop, Wilhelm Röntogen, wat X-strale ontdek het, Alexis Carrel, wat tegnieke ontwikkel het vir die hegting van bloedvate, en vele ander mense wat ’n belangrike rol in die mediese veld gespeel het.
Later, in die 1990’s, was daar ook seëls wat mense aangemoedig het om hul kinders teen siektes soos polio in te ent.
Conradie sê sy het ’n hele paar kleiner versamelings, maar van haar hoofversamelings sluit natuurlik die tematiese uitstalling oor die geskiedenis van medisyne oor die eeue in, en ook ’n uitgebreide landsversameling oor Mauritius, wat strek van die voorseëlse tydperk tot ongeveer 2003. Dan het sy ook ’n groot een oor medisinale plante.
Seëls uit Gerrie Conradie se versameling oor medisinale plante. Foto: Gerrie Conradie
Sy sê daar gaan ’n geweldige hoeveelheid navorsing in sulke versamelings in, veral as dit jou doel is om hulle uiteindelik uit te stal; in haar geval, eers op klubvlak, toe nasionaal, en toe selfs internasionaal in Singapoer.
“Jy versamel materiaal, maar dis nie jou uitstalling nie. En dit gaan natuurlik oor seëls, maar dit gaan ook oor ander posmateriaal soos koeverte, briewe, poskaarte, stempels, enige posmateriaal wat deur die poskantoor uitgegee en gebruik word. Vir jou uitstalling gaan haal jy dele van daai materiaal uit wat jy op ’n spesifieke manier orden sodat dit sin maak vir die persoon wat daarna kyk. Jy moet daai tema baasraak sodat jy die storie sinvol kan vertel.”
’n Posstuk uit Gerrie Conradie se Mauritius-versameling wat terugdateer na 1828, voor seëls nog bestaan het.
Die mense en plekke in die geskiedenis
Waar Conradie se hoofversamelings meer op temas in die geskiedenis fokus, het Meyer weer ’n voorkeur vir geskiedkundige figure, soos ’n sekere krygsgevangene uit die Anglo-Boereoorlog, Cecil John Rhodes, Jan Smuts en Emily Hobhouse, of lande soos die destydes Basoetoland (vandag Lesotho) en Bechuanaland (Botswana).
Hy het 40 jaar gelede by ’n vlooimark in Krugersdorp sy eerste aankope gemaak - ’n gebruikte seëlalbum. “En die ironie is ek het nooit geskiedenis op skool gehad nie. Filatelie het vir my nommer een, die land, en nommer twee, die wêreld se geskiedenis vertel.”
’n Blad uit een van Pieter Meyer se versamelings: Die Kaapse Driehoeke, Suid-Afrika se heel eerste seëls uit 1853. Foto: Linzetta Calitz
Meyer meen daar is nie ’n individu wat belangrik is wie se gesig nie op ’n seël beland nie.
Ná daardie eerste album het hy maar lukraak versamel. “As daar Singapoer is, dan versamel ek Singapoer; as daar Maleisië is, dan versamel ek Maleisië.”
En toe kom daar so 20 jaar gelede ’n interessantheid oor sy pad: ’n krygsgevangene, Michael Eloff, se plakboek wat hy in George vir R500 van iemand gekoop het. “Dit was ’n ou s’n wat in die Anglo-Boereoorlog in Ceylon [die hedendaagse Sri Lanka] in ’n krygsgevangenekamp aangehou is.”
Terwyl Eloff daar was, het hulle sy vrou en 12 kinders in ’n kamp in Pietermaritzburg aangehou ná hulle plaas as deel van Lord Herbert Kitchener se verskroeideaardebeleid afgebrand is, vertel Meyer.
“Al die koeverte van die briewe wat hy ontvang het, sowel as al die briewe wat hy gestuur het, was in hierdie plakboek gewees - en dan was daar ook nogal Kerskaartjies gewees, 1901 s’n - jy kan net imagine hoe lyk hulle! En wat vir my so interessant was: daai jare het koningin Victoria die wêreld regeer, en hy het altyd haar seël onderstebo op ’n koevert geplak om sy teenstand teen haar te toon.”
Buiten die Groot Silwer-toekenning het hierdie uitstalling van 48 blaaie ook die ATKV se prys vir beste Afrikaanse uitstalling gewen.
“Windgat sit ek toe terug in Oudtshoorn, lekker daar agter my lessenaar, en hier lui my telefoon, toe is dit ’n mnr. Jacobs wat my bel - hy wil die hele ding koop. Ek sê: ‘Nee, ek werk nou al drie, vier, vyf jaar aan hierdie uitstalling. No ways!’
“Die volgende dag is hy weer op die lyn - hy onderhandel namens iemand anders, en hulle móét hierdie uitstalling van Michael Eloff koop.”
Na ’n geheen-en-weer besluit Meyer toe uiteindelik om ’n lekker stewige prys daarop te plaas, met die verwagting dat Jacobs hom gaan probeer afstry. Maar die volgende oggend is die geld na sy rekening oorbetaal, sonder onderhandeling. Die koper se naam is egter toe nie Jacobs nie, maar ene Jacobus Bekker.
“Ek bel die Jacobs en vra wat gaan nou aan? Hy sê vir my: ‘Ek wou nie vir jou gesê het nie, maar die ou wat die uitstalling gekoop het, is Koos Bekker [van Naspers].’ Ek sê: ‘Bl*ks*m! As ek dít geweet het!’” vertel Meyer laggend - maar hy swyg oor die prys wat Bekker betaal het.
Die Rhodes-stigting wil weer sy versameling oor Cecil John Rhodes koop, maar hier weier hy nog, so hulle is tans op ’n waglys. Hy het egter intussen vir die stigting kleurkopieë daarvan aangestuur.
“Dis wat filatelie eintlik so interessant maak: die verhaal agter dit alles,” sê Meyer.
Lugpos, ramppos, ontsmette pos
En buiten hierdie paar temas, persone en lande is daar nog letterlik ’n wêreld se verskeidenheid daar buite. Conradie sê daar is nog filateliese versamelvelde soos lugpos of skeepspos, en na aanleiding daarvan - ramppos!
“As daai vliegtuig val, gaan haal hulle daai possak, haal die posstukke uit, en dan is dit ramppos, want dan het hy so ’n bietjie op die kant gebrand, of hy is ’n bietjie vuil, of wat ook al.”
Daar is ook ontsmette pos, brei sy verder uit. “Om die verspreiding van aansteeklike siektes soos die builepesplaag [bubonic plague] van die 1900’s, cholera of melaatsheid te voorkom, is briewe in die vroeë tyd op verskeie maniere ontstmet. Van die 17de eeu af is die briewe met asyn gewas en dan gedroog. Dit is ook met brandende kruie, of chemikalië soos swaweldioksied of chloried berook. Daar is dan gaatjies in die brief gepons of ’n gleuf is in die papier gesny sodat die dampe na die binnekant kan penetreer.”
’n Gleuf is in hierdie brief uit Gerrie Conradie se versameling gesny sodat dit ontsmet kan word. Foto: Linzetta Calitz
Conradie sê tydens 2001 se antraks- (miltsiekte) biologiese aanvalle in die VSA is die posmateriaal byvoorbeeld bestraal om die Bacillus anthracis-spore wat in die pos versprei is te vernietig.
Die stokperdjie van konings
Meyer sê filatelie neem wel wêreldwyd af as gevolg van moderne tegnologie. “Maar dit bly nog die wêreld se grootste stokperdjie, en die koning van stokperdjies. Hoe sê hulle? The king of hobbies and the hobby of kings. En dis nogal baie waar - die grootste versamelaar in die wêreld is nou koning Charles [’n versameling wat hy by sy ma geërf het]. Die tweede grootste is koning Saud van Saudi Arabië. Dit is nou maar net twee voorbeelde.”
Conradie sê dat filatelie wel taan is onrusbarend. “Maar die ou klassieke pos en posstukke en posgeskiedenis gaan voortleef. Dis die geskiedenis wat aan ons toevertrou is en wat ons vir die nageslag moet bewaar sodat hulle ook kan weet waaroor die poswese gegaan het.”
Die Posboom-filatelievereniging
En so kan ’n filatelis jou vir ure aaneen met hierdie brokkies geskiedenis vermaak en inlig. Die vereniging nooi enigeen om by een van hulle byeenkomste aan te sluit om te sien of dit iets is waarin hulle sal belangstel. Hulle kom elke tweede Dinsdag van die maand om 18:00 by die St. Peters-kerksaal in Marshstraat bymekaar. Kontak Conradie of Meyer by [email protected] of [email protected] vir meer inligting, maar jy is ook welkom om net by die byeenkoms op te daag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’