Die spreekwoord ''n Boer maak ‘n Plan’ kry gestalte in KKI, het tydens ‘n oorsig en die finansiële resultate wat Vrydag 8 November op die KKI se algemene jaarvergadering deur Johan Stumpf, Besturende Direkteur, voorgelê is, geblyk.
Volgens Stumpf was die uitbreek van AI die bedryf se 'black swan' – ‘n gebeurtenis wat nooit in die vooruitsig gestel kon word nie, maar wat tot onherroeplike veranderinge gelei het, soos uit die verstommende aanpassings in die bedryf en die merkwaardige finansiële resultate gesien kan word.
Voorop staan die groeiende sukses van hitte-behandelde vleis, ook genoem gebraaide vleis, wat in toenemende mate suksesvol na Europa uitgevoer word sedert die verbod op die uitvoer van vars vleis met die uitbreek van AI in April 2011, ingestel is.
KKI het hom nie deur hierdie terugslag laat onderkry nie: installering van ‘n hitteverwerkingsaanleg is in Desember 2012 voltooi en KKI het tans die kapasiteit om alle vleisprodukte op hierdie manier vir die uitvoermark te behandel.
Al het die aantal volstruise sedert 2011 met 124 000 volstruise per jaar (59 persent die afgelope jaar), kry produsente nou 52 persent meer vir hul volstruise: die gemiddelde prys het sedert 2012 van R2009 tot R3061 in 2013 toegeneem – die hoogste in tien jaar.
Maar dit is veral die omset van leer (R26.8 miljoen) en vere (R15.1 miljoen) wat dramaties toegeneem het. Daar is steeds ‘n sterk vraag na leer en vere, maar daar is genoeg voorraad om die mark vir die volgende 12 tot 18 maande te voorsien aangesien KKI die vraag en aanbod in balans gaan probeer hou deur voorraadbestuur.
Die plaaslike verbruik van volstruisvleis het ook met 30 persent gestyg, moontlik as gevolg van daarvan dat die binnelandse prys in lyn met ander rooivleisprodukte en die aanbod van nuwe produkte en waardetoevoeging tot bykans alle vleis wat geproduseer word, gebring is. Leer bly in die internasionale modesiklus en word ook toenemend in die meubelvervaardigingsbedryf gebruik. Krokodilleer word ook toenemende verwerk en verkoop.
Vleisvoorraad groei met 30 persent, slegs ‘n vyfde van groei in voorraad in 2012, en steeds minder as die helte wat tydens die AI-uitbreek in 2006 bereik is. KKI se swart eknomiese bemagtigingsprojekte by Peddie in die Oos-Kaap en De Aar dra meer as 10 persent by tot die voorraad.
Korporatiewe doelwitte wat in 2008 gestel is, is reeds grotendeels teen die einde van 2012 bereik. Die maatskappy se skuldverhouding deur middel van kostebesparing (soos onder meer die verkoop of sluiting van fasiliteite en kostebesparing binne die maatskappy), is verminder vanaf meer as 10:1 tot 0.8:1.
Die groep in sy geheel se netto wins van R22,5 miljoen vir die jaar en op bedryfswinsvlak, is prestasie heelwat verbeter – R41miljoen teenoor R30 miljoen in 2012. Aangepaste wesensverdienste is R6.5 miljoen hoër. Oor ‘n tweejaar-tydperk sedert die AI-uitbreek, is die bedryfswinsmarge amper 350 persent beter, het Stumpf gesê.
Klein Karoo Groep
Die gediversifiseerde Klein Karoo Groep se totale omset vir die jaar het met 15,5 persent gegroei tot R1 348 miljard, met ‘n netto wins ná belasting van R17,5 miljoen tot R52.1 miljoen, het Stumpf gesê.
Klein Karoo Handel, Meganisasie en Dienste het voordeel getrek uit diversifikasie in landbou as gevolg van die AI-krisis in die volstruisbedryf. Alhoewel die omset van vleis afgeneem het, het handel in leer en vere dramaties toegeneem tot voordeel van die produsent. Die fokus bly op gebraaide vleis wat toenemend gewilder raak op Europese winkelrakke.
Klein Karoo Saadproduksie het ‘n goeie jaar beleef ten spyte van laer as verwagte uiesaadopbrengste weens swak bestuiwing, veral in die Klein- Karoo.
“Ons kyk veral na diversifikasie waar die bestaande kernbesighede en infrastruktuur aangewend kan word om nie-volstruisgerigte besighede te skep, maar ons fokus op die huidge boerderyvertakkings naamlik saad en volstruis, gaan nie skade lei nie.”

Johan Stumpf, Uitvoerende Direkteur van KKI en Hennie van der Merwe, Voorsitter van KKI, by prof. Mohammed Karaan, Dekaan van die Landboufakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch, wat die spreker by die algemene jaarvergadering was. Foto: Tisha Steyn