OPINIE - Julle mans wat aan vroue slaan, ek praat met julle. Ja, jy, wat jou vuiste bal of sonder huiwering met ’n plathand na haar gesig mik.
Jy wat haar rondruk, haar lyf soos ’n bokssak hanteer. Jy wat so naby aan haar gesig skree dat jou spoeg oor haar wange spat.
Haar hare in ’n bondel bymekaargryp en styf trek sodat sy nie haar gesig weg van jou giftige gefluister kan draai nie.
En daardie gefluister - sy weet dit is altyd die begin. Die afskop van die volgende aanrandingsessie. Sy voel dit fisies in haar maag, want sy ken al jou patroon van geweld.
Sy smeek jou om op te hou. Hoor jy haar? Vrees en trane. Hulpeloosheid.
Jy voel in beheer. Jy voel soos ’n sterk man wanneer sy verduidelikings tussen snikke probeer uitkry.
Partykeer waag sy dit om terug te baklei, ander kere is sy stil. Partykeer skree sy ook. Maar jy is sterker as sy. Jy weet dit.
Aan die begin, toe jy haar leer ken het, was daar lewe in haar oë. Nou is dit weg. Jy het dit oor die jare heen uit haar uit geslaan.
Hulle sê mos die oë is die vensters na jou siel. Kyk in haar oë. Wat sien jy? Niks nie, want jy het dit stukkend geslaan.
Julle mans wat dit geniet wanneer ’n vrou vir haar lewe smeek, dikwels terwyl kinders staan en kyk. Sien jy vir boetie daar teen die muur?
Dun beentjies, knopknieë, sy wysvingertjie in sy mond, nat broek van vrees. Sien jy vir sussie? Twee klein handjies plat oor haar oë. Haar asemhaling baie vinnig. Sy wag vir jou volgende hou.
Hulle kyk hoe jy hulle ma breek. Elke keer. Net so erg soos die vorige keer.
En jy? Jy vertel jouself dis mos maar as gevolg van hoe sy met jou maak dat jy dit doen. Dis mos hoe jou pa, of jou ma se boyfriend, jou ma ook geslaan het.
Jy dra daardie herinneringe in jou kop saam. Dis jou verskoning. En al het jy nie so grootgeword nie, vertel jy jouself ’n ander leuen om jou geweld te regverdig.
Voel jy soos ’n groot man as jy haar pimpel en pers geslaan het? Antwoord my vraag. Ek wil weet of jy dán soos ’n man voel.
Wat sê jy eendag vir die maatskaplike werker wat as versagtende omstandighede in ’n hof moet verduidelik hoekom jy haar aangerand het? Hoekom die landdros nie moet afwyk van die minimumvonnis wanneer jy haar doodgeslaan het nie?
Julle manne wat aan vroue slaan herhaal in die hof almal dieselfde rympie: Dit is mos in só ’n huis waarin jy as kind ook grootgeword het, dat jy die siklus herhaal.
Soos jou pappa. En sy pappa. Soos jy boetie nou leer.
Jy wat ’n vrou met albei hande so hard teen die skouers stamp dat sy neerval. Jy wat haar skop terwyl sy lê. Op haar trap. Wat haar hare uittrek totdat jy met ’n klos daarvan in jou hand staan.
Gooi dit in die vuur! Mik volgende keer vir ’n deel van haar kop waar sy nog nie ’n kaal kol het nie.
En dan, die volgende dag, sien jy haar kaal lyf. Die blou kolle teen haar nek. Die kneusplekke by haar borste - ja, dáár waar sy jou kinders gevoed het. Haar arms, blougroen en geel. Jy sien dit. Jy weet jy het dit gedoen. En vir ’n oomblik het jy kortstondige berou. Is dit ’n traan daar in jou oog? Sien ek reg?
Hou dit terug, sterk man, sluk dit weg. Want jy en sy weet: dis net ’n kwessie van tyd voor jy weer begin.
Die Suid-Afrikaanse regering vra hierdie jaar dat mans leiding neem in die jaarlikse veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders. Dat mans opstaan.
Maar jy? Jy wat jou hand vir haar lig, jy gaan nie ophou nie. Jy mag ook nie opstaan nie, want jy is nie ’n man nie.
Louise Karsten is die redakteur van Mossel Bay Advertiser.
*16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders vind jaarliks van 25 November tot 10 Desember plaas.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’