OPINIE - Verskeie tragedies het die afgelope week in die Mosselbaai-gebied afgespeel.
Na jare in die joernalistiek het ek en my span joernaliste tot 'n mate seker al afgestomp geraak wanneer ons stories van verlies dek. In dié bedryf het ons nie 'n ander keuse gehad as om 'n oorlewingstegniek te moes aanleer nie.
Tog is daar dae wat die tragedies, en die dood, nader voel.
Ek is seker die eienaar en hoof- uitvoerende beampte van die Gondwana- privaat natuurreservaat, FC Conradie (39), het nie geweet die sonsopkoms van 22 Julie 2025 sou sy laaste wees nie. Ook nie die vorige dag se sonsondergang nie.
Conradie is op die betrokke oggend deur 'n olifant in die reservaat vertrap. Hy was 'n eggenoot en die pa van drie jong seuns.
Op 39 is jy in die fleur van jou lewe. Jy maak kinders groot en bou aan 'n beroep. Niemand beplan om op 39 deur 'n olifant vertrap te word nie.
Eerder beplan jy om nóg 'n keer aan jou seuns se handjies te vat, jou mooi vrou wéér styf teen jou vas te druk, nóg 'n son te sien sak.
Net so is ek seker dat Natasha Fourie (49), die vrou wat Sondag in 'n tref-en-trap-ongeluk op die R102 naby Groot-Brakrivier oorlede is, nie geweet het haar laaste sonsondergang was die dag tevore nie.
Fourie was op haar bromponie op pad huis toe nadat sy haar skof by 'n plaaslike kuierplek gewerk het, toe sy deur 'n voertuig getref is.
In beide gevalle is die mense wat agtergelaat word, en met wie Mossel Bay Advertiser se joernaliste in kontak moes kom, gesinne wat 'n swart mantel van rou dra. Hulle is mense wat nog nie tot verhaal kon kom na die onverwagsheid wat die dood bring nie.
Die Advertiser se joernaliste moet hulle werk doen en met Conradie en Fourie se geliefdes praat. Dit is wat van hulle verwag word.
Jy sal net weet hoe moeilik só 'n oproep is om te maak indien jy dit al gemaak het.
Dinsdag, op die eerste dag van die derde skooltermyn, het 'n voertuig 'n 10-jarige meisie op die N2 oorkant Power Town getref.
Besef jy hoe tingerig is 'n 10-jarige se lyfie?
Hoe moet dit voel om vroegoggend, terwyl die son nog opkom, deur meer as 1 500 kg se metaal en bakwerk getref te word?
Indien jy al op 'n ongelukstoneel was, sal jy weet daar is niks sag in al die hard nie. Dit is verfrommelde metaal en teer. Dit is gruis en bloed en seer.
Hoe begryp 'n 10-jarige kind dat die lewe soms ook net gebeur, sonder dat enigeen van ons 'n hand daarin het? En hoekom gebeur sulke goed met kinders?
Teen die ter perse gaan was die meisie steeds met ernstige beserings in 'n George-hospitaal.
'n Rugbyspeler van Mosselbaai, Leeroy Muller (30), is dieselfde oggend van Conradie se voorval met 'n mes doodgesteek.
Muller se ma, ook 'n Mosselbaaier, het nie kans gesien om met 'n joernalis oor haar seun se dood te praat nie.
Ek verstaan dit. Ek sou ook nie wou nie.
Dood en die brandende rooi son
In die skrywer Merwe Wiese se Wreed én mooi is die dood skryf hy daar is 'n onvoorspelbaarheid aan die dood.
In gesprek met Dood vra hy hoekom party mense 'n lang lewe gegun word en ander nie. Dood vra dan: "Hoe lank is lank?"
Dit is nogal 'n goeie vraag.
Vir Dood vra ek: Hoekom sterf onskuldige mense op gruwelike, onverwagse maniere?
Stories soos dié wat ons die afgelope week moes dek laat mens aan jou eie verganklikheid dink.
Die digter Boerneef skryf met verwysing tot ouderdom: Die najaar is nou op sy herfsste / die bessieboom se rooi is hartvanrooi / hoe het my jeug se oë dan gekyk / die kleur was toe mos nie so brandendrooi / is dit die gawe van die ouderdom / om dieper in die kleuregloed te kyk / aanhoudender na die ondergaande son.
Wat ek en my span opnuut weer die week besef het is om die brandendrooi van die son wat sak werklik in te neem.
Miskien is dit ook my of jou laaste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’