MOSSELBAAI NUUS - Wie gaan die sterkste wees: Die Arende of die Valke?
Die vraag sal eers laat Saterdagmiddag, 14 Mei, beantwoord kan word wanneer die rugbywedstryd tussen die Arende en die Valke in die eerste divisie van die Curriebekerreeks in Brakpan, Gauteng, voltooi is.
Die SWD Arende moet Saterdag weer sy veilige hawe van Outeniquapark vir die onbekende verruil en die lang pad vir 'n wegwedstryd aandurf.
Verlede naweek het die span reeds in sy eerste wegwedstryd in vanjaar se reeks in Welkom in die Vrystaat gespeel. Die Arende het ongelukkig met 16 - 40 teen die Griffons verloor.
Dis egter duidelik dat die Arende hul nie laat onderkry nie. Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag in nabetragting van die Griffons-wedstryd gesê tot kort voor rustyd was die telling nog 9 - 9. Die tuisspan het egter 'n drie gedruk nadat die Arende 'n fout gemaak het.
Die Griffons het die tweede helfte met selfvertroue aangepak en binne die eerste 15 minute twee drieë gedruk. Die telling was toe 30 - 9. Daarna was dit vir die Arende bitter moeilik om weer terug te kom.
Volgens Moolman moet in gedagte gehou word dat die Griffons 'n goeie span het en boonop was die wedstryd op hul tuisveld.
Die Griffons is goed afgerig en het goeie sisteme in plek. Dis 'n span wat daarvan hou om die bal lug te gee en aanvallend te speel. Na die wedstryd is hulle steeds onoorwonne in die reeks.
Volgens Moolman is dit sinneloos om vas te steek in die verlede. Die Arende het geleer uit die wedstryd en fokus nou op die wedstryd teen die Valke. Dit is weer 'n wegwedstryd en natuurlik is dit so dat 'n tuisspan altyd 'n voordeel het om op hul tuisveld te speel.
Die Arende moet nog vyf wedstryde speel waarvan drie wegwedstryde is. Tot dusver het die Arende goed gedoen om twee van sy tuiswedstryde te wen, maar moet poog om minstens twee van die wegwedstryde te wen. Die Arende is tans sesde op die punteleer.
Volgens hom sou 'n span minstens 24 punte op die punteleer moet hê om aan die einde van die reeks te kan kwalifiseer vir 'n halfeindstryd.
Wedstryde
- Die Arend het nou vier wedstryde agter die blad in die reeks waarvan hy twee gewen het en twee verloor het.
- SWD se o. 20-span het die afgelope Saterdag met 22 - 36 teen die Boland Kavaliers se o. 20-span in Wellington verloor.
- SWD o. 20 se volgende wedstryd is 'n tuiswedstryd die naweek in George teen Grens o. 20.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'