MOSSELBAAI NUUS - Die Riversdal Blues-rugbyklub se eerste span het Mosselbaai Saterdag op die Van Riebeeck-stadion in 'n SWD Presidentsligawedstryd met 22-19 verslaan.
Ondanks winderige toestande het albei spanne goeie balvaardighede ten toon gestel wat groot byval by die toeskouers gevind het.
Die tuispan se loskakel, Sean Klingsick het die eerste punte van die wedstryd aangeteken met die skrumskakel, Ryan van der Westhuizen wat verdoel het. Hul voorsprong was egter kortstondig toe die Blues se blitsige vleuel, Neil Japhta 'n goedgeplaasde boksskop van die skrumskakel Freek Hardnick enkele minute daarna opgevolg het vir 'n drie onder die pale. Die binnesenter, Wilbur Januarie het verdoel en die telling was gelykop met 7-7.
Die skakelkombinasie Klingsick en Van der Westhyizen het die besoekers deurentyd hoofbrekens besorg en het binne 'n bestek van vyf minute weer eens onderskeidelik gaan druk en verdoel om die voorsprong met 7 punte te rek. Die Blues het egter nie gaan lê nie en dadelik weer teruggeslaan met 'n drie deur die woeilige binnesenter, Januarie. Januarie kon egter nie daarin slaag om sy eie drie te verdoel nie, en die rustydtelling was 14-12.
In die tweede helfde het Riversdal Blues se agterspelers na 'n hoër rat oorgeskakel en telkemale die verdedigers na lug laat tas. Na 10 minute se speeltyd in die tweede helfte het die hardwerkende flank, Matthew Fielies met brute krag oorgedryf vir 'n skitterdrie. Hul loskakel, Chadwin Paulsen het die drie verdoel.
Toe die binnesenter, Januarie boonop 'n strafskop ook deur die pale jaag was die koeël deur die kerk vir die tuispan.
Mosselbaai het egter verbete teruggeveg en was beloon met 'n onverdoelde troosdrie deur die heelagter, Joren Robertson vir die eindtelling van 22-19. Mosselbaai se volgende wedstryd is op 14 April teen Seagulls op hul tuisveld.
Ook die Riversdal Blues B-span het Mosselbaai oortuigend met 20-7 gewen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'