MOSSELBAAI NUUS - Die voltooiing van haar 37ste Comrades-marathon het nóg 'n groot mylpaal vir die ervare langafstandatleet Kleintjie van Schalkwyk beteken.
Boonop is Van Schalkwyk ook die vrou wat tot dusver nog die meeste Comradese gehardloop het - in die wêreld.
Dié Mosselbaaier beskryf vanjaar se wedloop as beide fisies en emosioneel uitdagend, en sê die aanloop tot die wedloop het haar weer gespanne en onseker oor haar vermoëns laat voel.
"Elke jaar is dit 'n ander ervaring. Hierdie jaar was ek weer 'n senuweewrak voor die tyd," sê sy. "Jy oefen, jy doen die kilometers, maar dan kom daardie gevoel van twyfel oor jou vermoëns."
Sy sê die wedloop self het weer die onvoorspelbare en veeleisende aard van die Comrades beklemtoon. "Terwyl jy hardloop voel dit vir jou jy is soos 'n kat met nege lewens. Elke keer dink jy jy kan nie verder nie, maar dan kom daar krag van bo en dra jou tot by die volgende afsnypunt," sê sy.
Van Schalkwyk sê sy is nederig oor die erkenning wat sy ontvang, al was dit nooit haar oorspronklike doel om noodwendig so baie van die Comrades-wedlope aan te pak nie.
Vir haar het Comrades 'n lewenswyse geword en 'n daaglikse motivering.
"Ek probeer Comrades deel maak van my lewe. Dis vir my 'n rede om elke oggend op te staan en te weet ek is nog gesond en bevoorreg om te kan hardloop. Ek geniet dit om te hardloop," sê sy.
Al raak die wedloop al hoe moeiliker met ouderdom, bly sy vasbeslote om aan te hou solank haar liggaam dit toelaat.
"Comrades is elke jaar vir my 'n baie groot uitdaging. Ek hoop ek kan aanhou tot 40 medaljes. Ek bid dat my liggaam dit kan volhou, en ek is dankbaar vir elke tree wat ek nog kan gee," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’