MOSSELBAAI NUUS - 'n Jaar en vier maande nadat 'n lewens-veranderende operasie hom verlam gelaat het, is Rudolf Botha, adjunkhoof en onderwyser van Hoërskool Punt, terug in die klaskamer waar hy weer met passie onderrig gee.
Botha se lewe het op 25 Februarie 2025 drasties verander toe hy vir 'n operasie moes gaan om 'n goedaardige gewas naby sy ruggraat te laat verwyder.
Ses ure ná die prosedure het die wrede werklikheid hom getref: hy kon nie meer loop nie.
Botha sê hy is diep dankbaar vir die ondersteuning van die skoolbestuur en sy kollegas. "Hoërskool Punt is my sanity en my plek waar ek waardevol voel en deel van 'n span is," sê hy.
Sy gesondheidstoestand bly egter ernstig. Tydens 'n onlangse konsultasie met 'n neurochirurg in Johannesburg is hy ingelig dat die moontlikheid bestaan dat hy dalk nie weer sal kan loop nie.
Hy sê die nuus was 'n groot skok, maar dat hy besluit het om die lewe "voluit aan te pak, met of sonder bene".
'n Verdere operasie wag egter nou op hom as deel van sy voortgesette mediese behandeling en herstelproses.
In 'n poging om die groeiende mediese kostes te help dra, is 'n BackaBuddy-veldtog nou van stapel gestuur om Botha en sy gesin finansieel te ondersteun. Botha sê daar is steeds uitstaande mediese rekeninge van duisende rande, terwyl maandelikse uitgawes en onvoorsiene koste voortdurend opduik.
Ten spyte van die uitdagings sê hy sy gesin en ondersteuningsnetwerk speel 'n deurslaggewende rol in sy herstel en daaglikse aanpassing.
Die pad vorentoe is volgens die familie nie net fisies uitdagend nie, maar ook emosioneel en finansieel uiters veeleisend.
Botha het sy opregte dank teenoor almal wat hom en sy gesin sedert sy operasie en daaropvolgende terugslag ondersteun het, uitgespreek.
"Ek wens ek kon elke persoon persoonlik bedank, maar dis onmoontlik. Ek staan nederig en klein oor die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang het," sê hy.
Vir meer besonderhede, besoek die BackaBuddy-webwerf en gaan na 'Help jou onnie'.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’