HARTENBOS NUUS - Hartenbos-inwoner Nerida Lubbe het die afgelope naweek haar ouderdomskategorie tydens die Comrades-ultramarathon geklop.
Lubbe het eerste onder die vroue 50-59 jaar geëindig nadat sy die uitmergelende wedloop in ’n tyd van 7:20:53 voltooi het.
Sy hardloop vir die Nedbank-drawwersklub in George. Mossel Bay Advertiser het ’n paar dae ná die wedloop met haar oor haar prestasie gesels.
“Die Comrades is die Ultimate Human Race. Ek wou graag ’n silwer medalje met die up run van 2026 kry, maar opdraandes is vir my moeilik. Met die Kaapstad-marathon nog in my bene het ek dit reeds binne die eerste 10 km gevoel, en besef dit gaan nie maklik wees nie,” sê sy.
Lubbe sê sy het haar eie somme begin maak toe sy die laaste 3 km aangepak het, en kon toe ontspan.
“By die einde het ek die aankondiging gehoor dat ek eerste in my ouderdom 50+ is. Ek het my beste tyd gehardloop.”
Op die bus terug na Durban het Lubbe ’n uitnodiging na die prysuitdeling ontvang.
Sy beskryf dit as ’n groot voorreg om saam met van die land se topatlete, waaronder die vrouewenner Gerda Steyn, daar te kon wees.
Volgens Lubbe begin die pad na die Comrades met ’n goeie oefenprogram.
“Om die Comrades te hardloop moet jy ’n basiese fiksheid hê, en oefening begin op 1 Januarie. Dit is moontlik om van die sitkamerbank af na Comrades te gaan.”
Sy glo elke drawwer behoort dit ten minste een keer in sy of haar lewe aan te pak.
Lubbe oefen sedert 2016 saam met ’n groep vroue, onder andere Kleintjie van Schalkwyk, die vrou in die wêreld wat tot dusver die meeste Comrades-medaljes gewen het. Van Schalkwyk is ook ’n lid van die Hartenbos-drawwersklub.
“Ons oefen en drink daarna koffie voor ons dag begin. Die vriendskappe en motivering is kosbaar.”
Vir Lubbe lê die geheim van sukses in konsekwentheid.
“Die belangrikste vir my is om ’n oefenprogram te hê. My afrigter, DB Prinsloo, hou elke oefensessie dop, motiveer my, moedig my aan en inspireer my.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’