RUGBY NUUS - Vir die Jong Arende is dit Saterdag 8 Oktober maak of breek in SA Rugby se o. 21-skildreeks, wanneer hulle in een van die halfeindrondes teen die Valke in Brakpan speel. Verloor hulle, is hulle seisoen verby.
Die span sal ook met meer as gewone belangstelling die ander halfeindronde tussen die Griffons en OP volg. As die Jong Arende dié knoop kan deurhaak teen die Valke en OP slaag daarin om die Griffons te klop, dan is die eindstryd Saterdag 15 Oktober op Outeniquapark.
Niks is natuurlik onmoontlik nie, maar dit word as onwaarskynlik beskou dat die Griffons sal vasval teen OP.
Die Griffons is onoorwonne in vanjaar se reeks en die gunsteling om die rekord so te hou.
Toeskouers kon verlede Vrydag, 30 September, op Outeniquapark reeds sien waartoe die Griffons in staat is.
Die Griffons het die Jong Arende 53 -25 geklop. Dit was 'n klipharde wedstryd en toeskouers kon nie kla nie. Al het die tuisspan verloor, is die toeskouers getrakteer op opwindende rugby veral in die tweede helfte.
Die Griffons het ses keer agter die doellyn gaan kuier en die Jong Arende drie keer.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het Maandag gesê die unie is baie trots op die Jong Arende. "Ons hou styf duime vas dat hulle oor Saterdag se hekkie kan kom en kwalifiseer vir die eindstryd."
Volgens hom moet in gedagte gehou word dat dit die o. 21-spelers is wat in die toekoms sal kan aansluit by die professionele span. "Die Jong Arende se prestasie wys dat rugby in die SWD gesond is. Hul vertoning is van kardinale belang."
Gerwyn Alexander, afrigter van die Jong Arende het gesê die span is reg. "Die Valke is 'n harde neut om te kraak. Hulle is fisies 'n groot span, maar ons het ook vaardighede in ons span.
"Hulle is die gunstelinge, maar ons sal ons beste gee. Die twee spanne het verskillende speelstyle. Die span wat daarin kan slaag om sy styl af te dwing, sal waarskynlik die wedstryd wen."
Die Jong Arende was vanjaar drie keer aan die wenkant in die reeks en het net teen die Valke en die Griffons verloor.
Die Jong Arende na die wedstryd. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'