MOSSELBAAI SPORT NUUS - Die Neill Calitz-skietklub se laaste kompetisie van die jaar, wat ook die klubkampioenskappe was, het die afgelope Saterdag op die Pienaar-skietbaan plaasgevind en besonder strawwe mededinging opgelewer. Die weersomstandighede was perfek en verskeie skuts het uitstekend gevaar.
Vir die eerste keer in die bestaan van die klub word die trofee as kampioen skut van die jaar gedeel en is Willie Germishuys en Suzette Herrer 2019 se klubkampioene.
Willie is dan ook die klub se beste manlike skut van die jaar en Suzette die beste vroulike skut van die jaar. Suzette het ook die trofee as beste Woensdag-skut van die jaar ontvang. Die dag het afgeskop met 'n goeie vertoning deur Cali Brown, Bennie van den Heever en Gert Nel wat al drie 97/100 met die .22 oor 10m behaal het.
Gert was goed op vorm en het ook die 20m gewen. In die 10m - 20m-silhoeëtte het Willie, Gerrie Bester, Hannes Ingram en Mariska van Wyk almal puik gevaar deur vier van die vyf silhoeëtte in 20 sekondes plat te skiet.
Ivan Maddison sorg vir 'n wentelling in die 20m snelskiet terwyl Bennie 'n prag 48/50 met die 9mm oor 10m skiet. Mariska kan ook trots voel met 'n ewe goeie 44/50 wat vir haar 'n algehele derde plek besorg en die beste telling onder die vroue is.
Willie, Cali en Suzette samel al drie 11 punte vir die dag in en deel die toekenning as skut van die dag.
Danie le Roux het homself ook uitstekend gekwyt van sy taak as baanoffisier en het dan ook 'n toekenning ontvang vir sy uitstekende en onbaatsugtige diens deur die afgelope jaar. Die prysuitdeling en braai is na afloop van die kompetisie op die Garden Route Aquablast perseel van Marius van Wyk in Mossdustria gehou.
Uitslae
Die uitslae van Saterdag se kampioenskappe was as volg:
- 10m-pistool: 1. Cali, Bennie en Gert; 4. Suzette en Ivan.
- 20m-pistool: 1. Gert; 2. Suzette en Marius; 4. Cali; 5. Willie.
- 20m-snelskiet: 1. Ivan; 2. Willie en Suzette; 4. Marius; 5. Gerrie Bester.
- 10m - 20m-silhoeëtte: 1. Willie, Gerrie, Hannes Ingram en Mariska; 4. Ivan, Johan Uys, Hans Willemse, Marius, Suzette, Johanna Germishuys en Gerhard Myburgh.
- 10m-9mm: 1. Bennie; 2. Cali; 3. Mariska en Hannes; 5. Willie.
Die skietverrigtinge vir 2019 is met hierdie geleentheid afgesluit en sal weer in Januarie 2020 hervat. Die datums sal vroeg in Januarie gepubliseer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'