TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Hier in die Suid-Kaap is November die hart van die mossselkrakerseisoen.
Met sy bonkige lyf is die kraker 'n sterk bakleier wat die hengelaar se vernuf én gerei tot die uiterste beproef.
Sy bek is uitgeplavei met malertande waarmee hy skulp-aas stukkend druk.
Die hoek aan jou lyn moet van goeie gehalte wees, anders word dié ook toegedruk met die vatslag of tydens die geveg. "Beenbek" is dus 'n gepaste alternatiewe naam waaronder hierdie mooi vis ook bekend is.
Hengeltoestande
Mosselkrakers word meestal op rotsbodem gevang, maar soms ook op sandbodem. Logiese redes vir laasgenoemde is die aanwesigheid van die vaal sandkrap, asook onder meer krewels en witmossels wat deur branderwerking uit die sand losgespoel word. Ideale toestande kom voor, beide op rots- en sandbodem, na so twee tot drie dae se redelike sterk suidoos wanneer die bodem lekker omgeroer en losgespoelde kos beskikbaar is.
Vroegoggend is die beste tyd. Jy moet eintlik by die vangplek sit en wag dat dit lig word. Op bewolkte dae, of as dit liggies reën sal hulle ook later in die dag byt. Laatmiddag, van so vyfuur tot skemer is ook 'n baie goeie tyd. Hengelaars wat saans vanaf sandstrande vir kabeljou probeer, word soms beloon met 'n kraker wat hul seekat, tjokka of visaas optel.
Aas
By 'n rotskus is rooikrap die nommer een-aas. Siffies, eintlik 'n soort miniperlemoen, is vroeër met eweveel welslae gebruik, maar toe word dit tot verbode aas verklaar.
Die vaal sandkrap is bobaas by 'n sandkus. Ook rooiaas, witmossel en sandkrewel werk, gewoonlik wanneer jy daarmee vir ander visse probeer.
Hengelgerei
Alles moet sterk wees: sterk katrol en stewige stok, nylonlyn met 'n breeksterkte van 17-23kg, sterk draaispil en dik hoekstrop van so 25kg. Sterk hoeke, byvoorbeeld die Mustad Kendal Round 8/0-9/0, word aanbeveel omdat hoeke van 'n swakker gehalte maklik breek of toegedruk word deur die kraker se sterk kake.
Byt en baklei
Wanneer hy vat, laat hom toe om die stok behoorlik plat te trek. Die rem moet styf genoeg gestel wees sodat jy nie met die vaskapslag 'n kraaines ontwikkel nie. Dan is dit natuurlik chaos. 'n Mosselkraker maak meestal net een loop, hoogstens 50 meter ver. Hy is 'n slim bakleier wat tydens die geveg afduik en skuilplek agter riwwe probeer vind. Om te verhoed dat jou lyn oor die riwwe afgeloop word, moet jy die lyn styf hou en sy kop so gou moontlik draai. Met sy kop gedraai, is die stryd meestal gewonne en kan jy hom maar met mening begin inbring. Wees net op jou hoede vir 'n vinnige wegduikslag hier naby die kant.
Onlangse vangste
Na wat ek verneem, is hierdie seisoen al heelwat krakers by die rotskuste van George, Mosselbaai, Fransmanshoek naby Vleesbaai, Kanon en Gouritsmond gevang.
Ook heelwat kabeljou het al aan die hoek beland. In Stilbaai se wêreld het Zander de Beer, 'n professionele hengelgids, onlangs drie groot kabeljoue gevang, twee van ongeveer 22kg en een van 35kg. Zander, 'n Protea-kushengelaar, vergesel hengelaars op uitstappies (guided trips) en kan per e-pos bereik word by zoolookfishing@gmail.com. Sy video's kan ook op Youtube besigtigword vir baie goeie wenke.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'