TUINROETE NUUS - Die finaal van die Garden Route Aquablast-skietkompetisie wat die afgelope naweek plaasgevind en deur Marius en Mariska van Wyk aangebied is, was 'n reusesukses met uitstaande prestasies wat behaal is.
Dié kompetisie het oor vier maande plaasgevind en is afgesluit met 'n pragtige oorwinning deur Gert Nel in die grootuitdaagliga.
Hy het vir Ivan Maddison met agt punte geklop.
In die superliga het Suzette Herrer vir Willie Germishuys met 'n enkele punt verslaan om die eerste plek in te palm. Willie het met Saterdag se kompetisie kwaai teenstand gebied en vir 'n baie goeie einde gesorg.
Die puntestand van die top vyf skuts in dié kompetisies is:
Superliga (hierdie skuts kompeteer almal van 'n nul voorgee): 1. Suzette 45; 2. Willie 44; 3. Bennie van den Heever 33; 4. Calie Brown 32; 5. Hannes Ingram 31.
Grootuitdaagliga (hierdie skuts kompeteer van hul gewone voorgee): 1. Gert 56; 2. Ivan 48; 3. Gerrie Bester 36; 4. Johanna Germishuys 29; 5. Sandy Uys 28.
Junie-kompetisie
Die maandelikse skietkompetisie vir Junie is ook gedeeltelik deur Garden Route Aquablast geborg. Bennie van den Heever het die dag goed afgeskop deur 'n prag 99/100 in die .22-pistoolskiet oor 10m te behaal. Willie Germishuys en Donovan Day het in sy nek geblaas met net sulke goeie uitslae deur beide 98/100 te behaal.
Calie Brown het sekerlik vir die beste prestasie van die dag gesorg toe hy 95/100 oor die 20m geskiet het. In die snelvuur oor 20m het Willie vir Suzette met 'n punt geklop terwyl Suzette op haar beurt weer vir Calie en Marius in die 9mm oor 20m met twee punte geklop het.
Suzette het haar naaste teenstanders in die Aquablast-silhoeëtte met vyf punte geklop terwyl Calie die Aquablast-groeperingskiet met die .22-pistool gewen het.
Skuts is gevra om hul .22-gewere saam te bring en hier het Mariska en Marius van Wyk in onderskeidelik die vroue- en mansafdeling (oopvisier) geseëvier en Calie in die afdeling vir gewere met 'n teleskoop.
Die skut van die dag was Suzette met haar twee eerste, 'n twee en 'n derde plek. Sy het 19 punte vir die dag behaal met Calie in die tweede plek (16 punte) en Willie derde (15 punte).
Uitslae
10m: 1. Bennie; 2. Willie en Donovan; 4. Suzette; 5. Marius, Calie, Liam Brown en Gert.
20m: 1. Calie; 2. Willie; 3. Suzette; 4. Bennie; 5. Gert.
20m-snelvuur: 1. Willie; 2. Suzette; 3. Hannes; 4. Gert; 5. Calie.
20m .22-geweer: 1. Calie en Marius; 3. Mariska; 4. Liam en Willie.
10m-groepering: 1. Calie; 2. Marius; 3. Ounooi; 4. Ivan; 5. Hannes.
9mm: 1. Suzette; 2. Marius en Calie; 4. Gert; 5. Bennie.
20m-silhoeëtte: 1. Suzette; 2. Hannes en Marius; 4. Mariska; 5. Ivan.
Die volgende skietoefening is op Woensdag, 12 Junie vanaf 11:00.
Suzette Herrer en Gert Nel is onderskeidelik Garden Route Aquabast se topskuts in die superliga en grootuitdaagliga van die kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'