MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Dit is interessant om te sien dat die sowat 750 lede van Mosselbaai-gholfklub wat 'n voorgee het soos volg in die verskillende kategorieë val.
Daar is tans 98 spelers wat 'n voorgee van 9 en laer is.
Die voorgee tussen 10 en 15 word deur 149 spelers in beslag geneem. Twee honderd ses-en vyftig spelers val in die voorgeegroep van 16 tot 24.
Altesaam is daar 243 spelers met 'n voorgee van 25 en hoër. Die groot aantal spelers wat 'n voorgee van 16 en hoër is, kan grootliks toegeskryf word dat die gemiddelde ouderdom van ons lede 66 jaar en ouer op 35% te staan kom.
Woensdag
Goeie tellings is Woensdag, 12 Mei aangeteken in die individuele stablefordkompetisie. Bennie Venter het net-net sy voet in die deur gekry en met 41 punte was die eerste prys hom beskore. Chris Barnard het op 40 punte die uittelproses teen Frankie Brown oorleef en hulle eindig onderskeidelik tweede en derde. Nog was dit nie die einde van die uittellery nie, want op 39 punte het Tony Muller vir Manny Ascencao en Gert Pieterse die loef afgesteek. Vic Moll het op 37 punte met die sewende prys huiswaarts gekeer.
Saterdag
Saterdag het 140 spelers mekaar die stryd aangesê in die vierbal-alliansiekompetisie. Spanne van vier elk kon elke speler se bofhou minstens vier keer gebruik en dit het die kompetisie in 'n interessante wedywering laat ontaard. George Ferns, Theuns Pretorius, Alfred du Plessis en Gavin Reynolds het die formaat puik gebruik en op 96 punte was hulle die kampioene van die dag. Om die tweede plek het 'n vurige stryd ontstaan, maar klubkaptein, Michal Rehr, het sy span bestaande uit Heinrich Rehr, Clayton Ascencao en Heinrich Matthee stewige leiding gegee en op 93 punte was hulle die naaswenners. Die beproefde kombinasie van Chris Brits, David Wandrag, André van der Merwe en Pierre Botes het hulle ook goed van hulle taak gekwyt en na die uittel op 93 punte was hulle veilig in die derde plek.
Vergadering
Graag herinner ons al ons lede dat op Woensdag, 26 Mei om 18:00 'n spesiale algemene vergadering by die gholfklub plaasvind. Die begroting vir 2022 sal vir goedkeuring aan die lede voorgelê word. Vertrou ons sien sommer baie van ons lede by hierdie belangrike vergadering.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'