Advertorial
SAKENUUS - Wanneer 'n besigheid nou al vir 50 jaar 'n gerekende naam in die industrie is, kan sy eienaar met sekerheid sê: Ons het iets wat werk.
Vir Terblanche Beton in Gerickestraat, Voorbaai, is dit konsekwentheid - maak nie saak wie aan die stuur van sake is nie, kliënte kan maar weet hiér kry hulle niks minder as topgehalte diens en produkte nie.
Terblanche Beton se verhaal het in 1976 begin toe Johan Terblanche, 'n jong man van 20 jaar oud, 'n besigheidsgeleentheid in die vervaardiging en oprigting van betonmure gesien het.
In die 70's was daar maar slegs sowat 20 industriële erwe in Voorbaai, vertel Terblanche. Lofty Nel, vir Terblanche een van die beste mense wat hy in sy lewe ontmoet het, het hom toe 'n kans gegee om Terblanche Beton op een van dié erwe te vestig - en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Terblanche Beton het stelselmatig en in so 'n mate gegroei dat sy betonvoetspore op verskeie plekke aan die Tuinroete, en soms verder, sigbaar is.
Ná 45 jaar was Terblanche egter gereed om die leisels aan 'n nuwe eienaar, Chris Watkins, oor te gee - nie met 'n groot aankondiging of afskeid nie, bloot 'n oorgang van een eienaar na die volgende.
Watkins is nou al vir vyf jaar aan die stuur van sake. Hy lag en sê party mense weet nie eers oom Johan is nie meer die eienaar nie, maar daaroor gee hy glad nie om nie. Terblanche Beton het 'n goeie reputasie, en toe hy die besigheid oorkoop, het hy eenvoudig hierop voortgebou. Hoekom aan 'n resep én 'n naam verander as dit werk?
Daar is geen tekort aan voorraad by Terblanche Beton nie.
Vandag is Terblanche Beton van die grootste vervaardigers van hoëgehalte betonblaaie (Vibracrete slabs) en -pale aan die Tuinroete, met die vervaardigingsaanleg en verkoopskantoor steeds in Gerickestraat, waar alles begin het.
"Baie dankie aan elke kliënt wat vir oom Johan deur die jare, en ook vir my oor die laaste vyf jaar, getrou ondersteun het. Sonder julle sou ons sukses nie moontlik gewees het nie."
Vir enige nuwe intrekkers wat dalk nie met die naam of bedrywighede bekend is nie, verduidelik Watkins net weer vlugtig waarmee hulle jou kan bystaan. "Ons spesialiseer in professionele muurinstallasies, muurverhogings, asook die sloping en vervanging van bestaande mure en heinings." So of jy nou begin bou of hérbou, hierdie is die plek om met jou betonmure (Vibracrete walls) te vertrou, hetsy residensieel of kommersieel.
Watkins sê die professionalisme van hulle spanne op 'n perseel en die begin-tot-einde-bystand en -ondersteuning is 'n gegewe, en iets waarby hy self baie nou betrokke is.
"Ons is ook altyd bereid om die ekstra myl vir ons kliënte te gaan. En jy moet betrokke wees. Ek glo dis iets wat oom Johan gedoen het, en dis iets wat vir my net so belangrik is."
En wanneer Terblanche Beton se werk op jou eiendom afgehandel is, is alles reg, skoon en netjies - 'n naatlose oorgang, net soos die oorgang tussen oom Johan en Chris.
Terblanche Beton se interne span, Chrizelle Louwrens en Chris en Linda Watkins, by 'n voorbeeld van die beton-blaaie wat hulle bied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’