MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die jaarlikse Investec Mosselbaai Besigheidskamer se gholfdag het vir verskeie uitdagings gesorg aangesien spelers 'n sterk wind moes trotseer.
Die eerste van die 16 spanne het Vrydag, 25 Oktober om 11:40 afgeslaan in die vierbalspel. Verskeie besighede en organisasies het ingeskryf vir die gholfdag.
Vincent Vermaak van die Investec-groep wat die hoofborg is die afgelope paar jaar, het gesê dat dit 'n groot dag is en dat verskeie van hul eie kliënte het ook ingeskryf.
Die Afrishorespan met spelers MW du Preez, Charles Taute, Tyron Jansen van Vuuren en Johan Prinsloo het skoonskip gemaak onder die spelers met 'n telling van 115. Tweede was André van Wyk, Steven le Roux, Stephan Terblanchè en Hendrik Kriek met 'n telling van 112 en in die derde plek die Seesigspan met Donray Grobler, Ehardt Barnard, Gielie Slabbert en Gert Pieterse met hul telling van 110.
Donray Grobler het gespog met 'n volmaakte gelukhou en naaste aan die pen was Tyron Jansen van Vuuren. Die langste dryfhou was deur Christo van Schalkwyk en die mees akkurate dryfhou was deur Jaco Olivier uitgevoer.
Die organiseerders het almal bedank wat pryse geskenk het en bygedra het om die gholfdag so besonders te maak.
Donray Grobler het die prys ontvang vir 'n volmaakte gelukhou. Foto: Denise Lloyd
Met die wind wat die balle van die skoonveld af waai was so 'n naderhou 'n groot uitdaging.
Die manne het behoorlik die stokke laat buig tydens die Investec Mosselbaai Besigheidskamer se gholfdag.
Die wenspan van Afrishore met 'n puntetotaal van 115.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'