MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die 160 spelers wat op Woensdag, 26 Junie aan die sakemannedag deelgeneem het, het mekaar kwaai opdraend gegee.
Die gekombineerde beterbal stableford-kompetisie het die pa-en-seun-kombinasie van Anton en Anton (jnr) Izaakse soos 'n handskoen gepas.
Hulle 74 punte was meer as genoeg om hulle naaste teenstanders in die stof te loop.
Die tweede tot vierde plekke is onderskeidelik op 72 punte deur Tyron van Rensburg en Stix du Plessis, Colin Buck en André du Plessis, asook Gary Rule en sy spookmaat ingeneem. Die sakemanne het ook gesorg dat A Percival en H Swanepoel (71 punte), asook Annette en Wiekus Pretorius (70 punte) nie met leë hande huis toe gegaan het nie. Groot dank aan al die betrokke sakemanne vir hulle reusebydrae tot hierdie jarelange geborgde gholfdag.
Saterdag
Saterdag, 29 Junie het Arrie van der Linde en sy personeel van Global Golf weer eens gesorg dat die148 spelers waarde vir hulle geld gekry het. Johan Jordaan het die individuele stableford-kompetisie op 39 punte gewen. Jacques Human en Michal Rehr was in 'n verbete stryd om die tweede plek op 38 punte, maar na die uittel-prosedure is Jacques tweede geplaas.
Die volgende spelers, E Rhodes, K Hauptfleisch en A Percival (almal op 37 punte) het hulle ook goed van hulle taak gekwyt en kon ook deel in Global Golf se duursame pryse. Dankie Arrie vir julle lojale ondersteuning.
Die wenners tydens verlede week se sakemannedag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'