Jors Troelie wens regtig woeste weste winde het nog gewaai net waar Willem Willemse woon, maar tans woed dit weekliks op die vroue se gholfdag. So erg gaan dit soms dat sommige vroue se gholflus skoon weggeswiep word as hulle net na die weervoorspelling kyk.
Veel meer paraat en gholf-gekonfyt as dit, is klein Gail Botha wat onlangs die naaswenner in 'n stormwind was en dié keer die eerste prys losgeslaan het met 37 punte en 'n uittel teen Dawn Wessels.
Dalk kan mens redeneer dat Dawn 'n ongelyke stryd gevoer het omdat sy veel langer is en die idioom sê mos die hoogste bome vang die meeste wind.
Marlies Morgan, kwalik ontdooi uit die Duitse koue waar sy glo bittermin stok-geswaai het, was derde met 35 punte. Sy was ook die naaste aan die vlag op nommer 15. Shirley Sadowski wat verkieslik windtoestande vermy, is beloon met die enigste spogtweetjie in die storm en wel op nommer 4.

Stormsterk Gail Botha, Dawn Wessels, Shirley Sadowski en Marlies Morgan. Voor is Cynthia Zietsman nog aan't duisel van welgeluk-gholfsaligheid na haar pothou op nommer 15 die vorige Saterdag.
ARTIKEL: JORS TROELIE