MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Anton van Dam (voorgee 14), 'n besoeker aan die Mosselbaai-gholfklub, het op Woensdag, 14 Julie die klublede behoorlik laat les opsê toe hy die individuele stablefordkompetisie op ‘n skitterende telling van 42 punte gewen het.
Koos van Niekerk (voorgee 10) het hardnekkige teenstand gebied en teken 41 punte aan om as naaswenner uit die stryd te tree.
Kobus Potgieter (voorgee 8) is deesdae ook weer op sy stukke en op 40 punte raap hy die derde plek op. Die 77-jarige Pine Pienaar het die jonger spelers verras toe hy die vierde plek op ‘n stewige 38 punte ingeneem het. David Bourhill en Kabous Pretorius, albei 37 punte, asook Pierre Botes en Uys Keyser, albei 34 punte, het ook nog hulle pad na die prystafel gevind.
Saterdag
Die 144 spelers wat Saterdag, 17 Julie hulle vernuf in ideale weeromstandighede kom toon het, het oor die algemeen goeie tellings aangeteken. Talvin Schultz en Clive Kaptein het hulle as ‘n gedugte kombinasie bewys deur die beterbal stablefordkompetisie op ‘n stewige 46 punte te wen. Op 44 punte moes die uittel-proses sy loop neem en hier het George Ferns en Braam van Heerden net-net die oorhand gekry teen die egpaar, Thys en Marna Pelser. Barend Kotzé en John Harris kon op 43 punte daarin slaag om die vierde plek voor die pa-en-seun kombinasie van Johann en Danie van Langelaar in te neem.
Winter-uitklopstryd
Dit is nie net die weervoorspellings wat mense onkant betrap nie, maar ook Gert Pieterse wat hierdie week een van die mees gesoute spelers in die klub, David Bourhill, in die Winter-uitklopstryd tot oorgawe gedwing het. Gert se opponente vorentoe moet maar onrustig slaap, want sy visier is duidelik daarop ingestel om hierdie kampioenskap vir die derde keer te verower.
Spesiale algemene vergadering
Lede word net daaraan herinner dat daar voorlopig op Woensdag, 4 Augustus om 18:00 ‘n spesiale algemene vergadering in die Mosselbaai-klubhuis sal plaasvind. Kwessies rakende veranderinge aan die Grondwet sal bespreek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'