GRAAFF-REINET NUUS - Annelie Botes, bekende en geliefde skrywer, het gister, 12 Desember in Gqeberha op 67 gesterf, na jare van uiterste gesondheidsuitdagings.
Sy laat haar geliefde 'Ou Gryse', Chris agter, wat haar met soveel deernis versorg het. Die egpaar het ook twee kinders, wat beide in die buiteland woon en werk, Nasti en Rudolph.
Botes, gebore Basson, se ouers is jonk oorlede en sy het 'n lewenspad saam met haar man gestap, wat haar regterhand was regdeur hul huwelik, en talle opdraendes.
NB Uitgewers sê Botes het haar eerste skrywe gepubliseer in die destydse Brandwag toe sy net 18 was.
Ná baie jare van stilte het sy in 1994 weer aktief begin skryf.
Ongeveer 50 kortverhale en novelles het reeds in Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose verskyn.
Sy debuteer in 1995 met die roman Trippel Sewe en was ook bekend vir haar Goeie Môre-rubriek in Volksblad en Van Alle Kante-rubriek in Die Burger. Botes was 'n gewilde gasspreker en het 12 boeke in haar leeftyd gepubliseer.
Sedert Oktober 2018 het sy tuis, om haar ronde geelhouttafel opleiding aan vier verslaggewers gegee, en hoewel van hierdie persone ook reeds oorlede is, deel Graaff-Reinet Advertiser graag die woorde van drie van dié verslaggewers.
Mediaverteenwoordiger Cornelle Carstens:
"Ek het 26 minute na die nuus gebreek het gelees op Netwerk24, op die 10de die groetrubriek. Slegte gevoel gehad, maar steeds onverwags...nie gereed vir die nuus nie.
Ek wou met julle gesels...hartseer oor ons vyf wat nou drie is. Sy het swaar gekry en so moedig terug geveg," sê Cornelle Carstens, destyds van die Mosselbaai Advertiser en tans mediaverteenwoordiger.
Marianne Fölscher, vryskutjoernalis vir Sarie, se woorde tref diep:
"Ek het soos 'n lafaard weggehol toe die skryfvrou al sieker en sieker word.
Net alle elektroniese verbintenis vermy.
Nie 'n woord van word gou gesond nie;
nie sterkte nie; nie ek dink aan of
ek bid vir jou nie.
Net doodswye na elke terugslag.
Die herinneringe lê soos roosblare wat in 'n mandjie deur geliefdes rondom 'n graf aangestuur word:
2018 se skryfskool in jul pophuis by die voorhuistafel, die kers en die koper singing bowl wat ons oggendrituele begin het,
'n egte skildery in jou badkamer,
jou prentjietuin so groot soos 'n posseël,
jou naels wat in die lewe afgekou is oor die joernalis wat jou teen die land se lamppale vasgespyker het met die persepsie dat jy nie van mense hou wie se velle nie menskleur is nie.
Teetyd het jy die yskas oopgemaak, die dun spuitnaald uitgehaal en deur jou klere in jou maag gedruk, spuit in die vuigoedblik gegooi.
Soms het jy tydens 'n lesing opgestaan, 'n sigaretjie op die beskutte stoep gaan aansteek en in die voordeur bly staan, voortgegaan met jou les, die rook buitentoe uitgeblaas terwyl die luggie jou los rok geroer het en jou dun enkels teen die lig afgeëts het.
Jy het ons geleer van kill your darlings, enige mens wat laer as laag gedaal het (soms ook jouself), met oortuiging 'n drol genoem.
Jy het somme gemaak en kinders wiskunde geleer, jou grofgewerkte hande oor die klavier- en kerkorrelklawers laat gly, hongeres kos gegee, jou lewe op papier uitgegiet, vry en onbevange.
Ek saluut jou, skryfvrou."
Teresa Opperman, vryskutjoernalis:
En dan my persoonlike laaste vaarwel. Ek het kontak behou.
"Dankie, Annelie, ons paaie het nie sonder doel gekruis. Ek stuur vir jou my laaste wense. Ek dink aan:
Jou geliefde kat Sarel, en sy lewenswel- en weë, jou hunkering na kinders wat ver en wyd is, maar op wie jou trots uitswel wanneer jy vertel.
Jou kantoor, by jou bed se voetenent, want ware skrywers skryf dikwels regdeur die nag, want as die storie in jou kop loop, moet hy oor die rekenaarskerm lyf kry.
Ek hoop jy loop vir Linda raak, jy en jou Gryse het so graag by haar graffie gestop met jul see toe ritte, en jy was gebroke toe jy die laaste keer vir haar blomme vat om te vind haar graffie is gevandaliseer en geplunder.
Hoeveel sielswoorde het ons uitgeruil, hoeveel vreugdes het ons gedeel, en elke rubriek is tot op die been oopgekloof en onthoof, en het 'n nuwe lyf gekry, sonder herhaling van woorde, en met 'n pertinente finale woord, wat nog lank in die gedagtes kon vasgroei of vonkel. Dankie vir wat ek by jou kon leer.
Annelie, jou skrywersiel het nou gaan rus, maar jou woorde leef vir ewig voort.
Ek kon ure luister na hoe kosbaar jy vir haar was Chris. Meegevoel met jul gesin.
Sy was reeds in baie erge pyn en ongemak toe ek haar laaste boodskap kry, nie lank terug.
'Van iewers sal ek die moed kry om te dra wat my toebedeel is,' en jy het gedra Annelie. Vlieg nou hoog. Ek brand vir jou 'n kers."
Botes se persoonlike hoogtepunt vir die afgelope jaar, was die Musicale Soiréé deur Professor Albert Troskie, saam met Erika Bothma-Troskie, in die NG Kerk Somerstrand, wat aan haar opgedra is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’