Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Voorval by 'n crèche op Mosselbaai waartydens 'n kleuter, Trique Wewers (2) 'n onbekende middel gedrink het, word deur die departement van gesondheid ondersoek.
Wewers is onlangs in die Rooikruis Kinderhospitaal opgeneem nadat hy by die Sons and Daughters Day Care Centre iets gedrink het wat hom siek gemaak het.
Niemand kon aan die Mossel Bay Advertiser bevestig wat presies Trique gedrink het nie, maar dit is blykbaar óf 'n skoonmaakmiddel, óf handreiniger.
Die crèche word in die gebou van die Handelinge Sendingkerk gehou. Die mede-leier van die kerkgebou, Henry Korkee het aan die Advertiser gesê hy was nie by tydens die voorval nie, en dat die juffrou wat na die kinders omsien glo vir 'n oomblik badkamer toe was, toe die voorval gebeur het.
Korkee sê die kerk gee die gebou vir die gebruik van die crèche gratis.
Woordvoerder vir die departement van gesondheid, Nadia Ferreira het aan die Advertiser gesê die saak is by die omgewingsgesondheidspraktisyn aangemeld vir verdere ondersoek.
Intussen word Wewers steeds in die hospitaal behandel. Die woordvoerder van die Rooikruis Kinderhospitaal wou nie oor Wewers se toestand uitbrei nie.
Vorige artikel: Kleuter wat middel drink in hospitaal
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'