MOSSELBAAI NUUS - 'n Gesin van Mosselbaai soek antwoorde nadat hulle tweejarige seun 'n onbekende middel by 'n crèche gedrink het en nou in die Rooikruis Kinderhospitaal behandel word.
Die kleuter, Trique Wewers is verlede week na die George provinsiale hospitaal vir geneem.
Dit volg nadat sy ma Tanie hom by die Sons and Daughters Day Care Centre afgelaai het en toe die tyding gekry het dat haar seun iets gedrink het wat hom siek gemaak het. Tanie het eers met Trique na 'n plaaslike kliniek gehaas, waarna hulle na die Mosselbaai provinsiale hospitaal is. Hy is daarna oorgeplaas na die hospitaal in George en intussen in die Rooikruis Kinderhospitaal opgeneem.
Niemand kon aan die Mossel Bay Advertiser bevestig wat presies Trique gedrink het nie, maar dit is blykbaar óf 'n skoonmaakmiddel, óf handreiniger.
Die crèche word in die gebou van die Handelinge Sendingkerk gehou.
Die mede-leier van die kerkgebou, Henry Korkee het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hy was nie by tydens die voorval nie, en dat die juffrou wat na die kinders omsien glo vir 'n oomblik badkamer toe was, toe die voorval gebeur het.
"Ons kan nie nou veel oor die voorval uitbrei nie, maar die juffrou is daagliks met die ouers in kontak. Ons werk ook saam met die departement van gesondheid en daar is 'n ondersoek na die voorval gehou."
'n Uitbundige Trique Wewers voordat hy in die hospitaal opgeneem is.
Korkee sê die kerk gee die gebou vir die gebruik van die crèche gratis. "Die crèche het nie fondse nie, ons onderhou hulle. Die karige bedrag wat sommige ouers wel kan betaal, dek nie eens die kinders se kos nie.
"Ons kyk na die kinders en tot op hede was daar nog net goeie resultate vir dit wat ons hier in die gemeenskap probeer doen. Ons het onmiddelik met die ouers saamgewerk en die voorval was 'n ongeluk."
Woordvoerder vir die departement van gesondheid, Nadia Ferreira het aan die Advertiser gesê meer inligting oor die ondersoek sal later bekendgemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'