MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Munisipaliteit se voorgestelde vervreemding van 'n gedeelte van erf 6393 in Moquini, Danabaai, het verlede jaar kritiek ontlok.
Die item is op 30 November voor die raad gebring tydens ‘n openbare raadsvergadering.
Dié gedeelte (+/- 4 800m²) van die erf sal vir R980 000 (BTW ingesl), verkoop word sou die besluit goedgekeur word.
Die VF Plus het Vrydagmiddag, 26 Januarie, in ‘n persverklaring gesê die aangeleentheid “veroorsaak groot onmin in die gemeenskap en die VF Plus het ná ‘n petisie oor die aangeleentheid ‘n beswaarskrif namens inwoners aan die Mosselbaai Munisipaliteit oorhandig”.
In die verklaring verwys die VF Plus na ‘n berig deur die Mossel Bay Advertiser (Omstedenheid rondom vervreemding van Danabaai-erf )waarin verskeie kwessies oor die voorgestelde vervreemding van die erf aangeraak word.
Die party het met die munisipaliteit geskakel om kommentaar oor die aangeleentheid, gegrond op die mediaberig.
Die VF Plus het ‘n lys vrae aan die munisipaliteit gestuur waarop daar antwoorde verskaf is. Die munisipaliteit het bevestig die vrae is ontvang en beantwoord.
Hier is die lys van vrae en antwoorde:
1. Vraag: Waarom is ’n behoorlike tenderproses nie gevolg om die erf te verkoop nie?
Antwoord: Daar is nog nie ’n finale besluit geneem om die erf te vervreem nie en die aansoek is tans in die fase van openbare deelname.
2. Vraag: Het hierdie proses afgewyk van die gewone proses wat gevolg word om munisipale eiendom te verkoop?
Antwoord: Nee.
3. Vraag: Hoe is die prys bepaal? (R980 000 insluitend BTW).
Antwoord: Die markverwante verkoopprys is bepaal deur die munisipale waardeerder met inagneming van ander eiendomsverkope en die ligging.
4. Vraag: Is dit die huidige markwaarde? Die bewering word gemaak dat die erf miljoene rande werd is.
Antwoord: Sien die antwoord by punt 3.
5. Vraag: Kan u die markwaarde bewys?
Antwoord: Die munisipale waardeerder se memorandum was aangeheg aan die item wat op die raadsagenda was.
6. Vraag: Het raadslid Lodewyk Coetzee enigsins ’n rol gespeel in die proses?
Antwoord: Die raadslid het homself verskoon tydens die bespreking van die item en die neem van die besluit tydens die raadsvergadering.
7. Vraag: Gaan u nieteenstaande teenkanting en ’n beswaarskrif van die gemeenskap steeds voort met die transaksie?
Antwoord: Al die besware en kommentare ontvang word na afloop van die openbare deelnameproses aan die raad voorgelê vir oorweging en besluitneming. Daar word voorsien dat hierdie item sal dien tydens ’n ope raadsvergadering op 28 Februarie 2024 en is u welkom om die vergadering by te woon of verdere navrae na afloop van die vergadering te rig.
Die VF Plus sê hy is van mening dat ? openbare tenderproses gevolg moet word met aangeleenthede soos hierdie om ontevredenheid uit te skakel.
“Deur dit nie te doen nie, sal noodwendig aanleiding gee tot onmin onder die plaaslike gemeenskap, veral wanneer ‘n familielid as raadslid in die proses betrokke is.
“‘n Openbare deelnameproses net om kommentaar te kry nadat die raad reeds ‘n wesenlike besluit geneem het, is nie die regte werkswyse nie.
“Die burgemeester van Mosselbaai, mnr. Dirk Kotzé, het dit in die raadsvergadering benadruk dat enige persoon wat in Mosselbaai wil belê, welkom is.
“Die VF Plus stem daarmee saam. Plaaslike inwoners en gemeenskapsbelange moet egter voorrang geniet.
“Die VF Plus ondersteun die plaaslike gemeenskap en sal die situasie dophou en daarop aandring dat die regte prosesse van openbare deelname in die toekoms gevolg met sake soos hierdie.”
Vorige berig: Omstedenheid rondom vervreemding van Danabaai-erf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’