Breaking News Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Johan Counter (33) is gister in die Mosselbaai-streekhof tot twee keer lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die moord en verkagting van die 16-jarige Jamie Lee Julius op ‘n plaas buite Groot-Brakrivier.
Jamie Lee se liggaam is op 29 Januarie 2023 op die plaas Vadersgawe deur haar 20-jarige suster agter 'n watertenk in modderwater ontdek.
Die slagoffer het op Oudtshoorn gewoon maar het ten tye van die gebeurtenis by vriende van haar ouers, wat op die plaas naby Sorgfontein woon, gekuier.
Jamie Lee is later die aand skaars vier meter vanwaar hulle binne 'n plaashuis gekuier het, verkrag en verwurg.
Volgens haar vriende was die musiek in die huis hard en het almal saam in 'n vertrek gekuier. Hulle het haar waarskynlik nie gehoor skree nie weens die harde musiek.
Jamie Lee Julius
Counter woon op Friemersheim maar is oorspronklik van Noupoort. Hy het op 'n plaas in die omgewing gewerk en was 'n neef van een van die partytjiegangers.
Jamie Lee Julius se liggaam is by hierdie watertenk ontdek. Foto: Louise Karsten
Hy het skuldig gepleit op die aanklagte teen hom maar het volgens die landdros wat hom gevonnis het ook nie eintlik 'n keuse gehad nie aangesien DNS-resultate hom met die verkragting verbind het.
Hy is een keer lewenslank gevonnis vir verkragting en een keer lewenslank vir moord.
Die ondersoekbeampte in die saak was ao Alistair Rezant van die Mosselbaai polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Vorige artikels:
- Borg aan Jamie Lee verdagte geweier
- Jamie Lee verdagte in hof
- Moordverdagte weer in hof
- 3 jongmense vermoor, 3 in hegtenis
- Verdagte help om meisie se liggaam na stort te dra
- Verdagte in hof in verband met Jamie Lee se moord, verkragting
- Tiener wat verkrag en vermoor is se naam bekend gemaak
- Tiener naby Groot-Brakrivier verkrag en vermoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’