GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ‘n Sestienjarige meisie is gisteraand op 28 Januarie op ‘n plaas naby Friemersheim, Groot-Brakrivier verkrag en vermoor.
Die slagoffer se liggaam is vanoggend, op Sondag, 29 Januarie kort voor 08:00 deur haar 20-jarige suster agter ‘n watertenk in modderwater op die plaas, Vadersgawe ontdek.
Volgens die Groot-Brakrivier polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha is die slagoffer oorspronklik van Oudtshoorn, maar het sy sedert November verlede jaar by vriende van haar ouers, wat op die plaas naby Sorgfontein woon, gekuier. Sy was na wat verneem word nie tans skoolgaande nie.
‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die slagoffer saam met haar suster en ander vriende die aand van haar dood op die plaas gekuier het.
Sy is later daar weg en haar vriende was onder die indruk dat sy na Friemersheim is.
Haar suster het vanoggend na ‘n ander huis op die plaas gestap toe sy op die liggaam afgekom het.
Die slagoffer is gewurg en het na wat verneem word verskeie ander beserings.
Haar suster het eers gedink sy leef nog en het om hulp geroep waarna die slagoffer na 'n huis op die plaas gedra is. Die polisie is gekontak en sy is op die toneel dood verklaar.
‘n Verdagte is kort daarna deur die Mosselbaai-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in hegtenis geneem. Die verdagte was volgens bronne ook by die partytjie.
Hy word in die aanhoudingselle by die Groot-Brakrivier-polisiestasie gehou en sal binnekort in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van moord en verkragting.
'n Lykskouing sal Dinsdag op die slagoffer gedoen word. Haar identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser bekend, maar word weerhou omdat sy minderjarig is en omdat haar liggaam nog formeel uitgeken moet word.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Alistair Rezant. Enige ooggetuies kan hom kontak by 082 234 3557.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'