Update
MOSSELBAAI NUUS -Opposisiepartye in die Mosselbaai munisipale raad het verlede week ter velde getrek teenoor die DA nadat 'n raadsvergadering op Donderdag, 29 Junie vir drie ure verdaag is omdat die opposisiepartye volgens die DA die verrigtinge 'ontwrig' het.
Opposisiepartye het tydens die vergadering 'n mosie probeer bring na aanleiding van 'n storm wat losgebars het om die kop van burgemeester Dirk Kotzé en die DA-koukus nadat voormalige DA-raadslid Anco Barker beweer het dat die burgemeester inligting oor die salariskerf waarop die munisipale bestuurder aangestel is, van die volle raad weerhou het.
Barker het verwys na ‘n raadsvergadering in Junie 2022 en beweer die inligting oor munisipale bestuurder, Colin Puren se salarisskaal opsetlik weerhou is.
Die Speaker, Raadsdame Venolea Fortuin, het toegelaat dat die dringende mosie aan die einde van die raad se oop agenda aangehoor word, terwyl sommige opposisiepartye luidkeels en herhaaldelik teen die Speaker se reëling beswaar gemaak het.
Puren is op die maksimum salarisskaal vir munisipale bestuurders aangestel, ondanks konflikterende skrywes deur Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell en dr. NKosazana Dlamini-Zuma (toe nog minister van samewerkende regering en tradisionele sake) oor die salaris.
Die DA-koukus hou egter vol dat Kotzé volgens sy mandaat wat eenparig deur die volle raad aan hom opgelê is, opgetree het. Die burgemeester het op 9 Februarie 2022 die raad se eenparige mandaat ontvang om die aanstelling en salaris af te handel.
"Die briewe het gevolg na die aanstelling aan die onderskeie ministeries per brief bevestig is."
Opposisiepartye reageer
Woordvoerder van Bredell, Wouter Kriel het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat die aanstellingsproses ondersoek sal word. Die uitslag van dié ondersoek was teen druktyd nog nie bekend nie.
Intussen sê opposisiepartye die wanorde wat Donderdag plaasgevind het is as gevolg van die DA-speaker se weiering om opposisie-mosie onmiddellik vir bespreking te laat dien.
Icosa-leier Dawid Kamfer sê: "Ons wou net antwoorde hê en die daaropvolgende aanvaarding van die hele agenda deur die DA, sonder dat ons 'n enkele woord daaroor kon praat, was gemeen van die DA"
Kamfer sê daar was items wat die gemeenskap geraak het. "Voordat ons oorgegaan het tot stemming het ek as raadslid van Icosa by die Speaker gepleit om nie oor te gaan tot stemming nie maar sy het voortgaan met die stemmery, wat die DA, met 'n meerderheid gewen het."
Die DA-koukus het by navraag gesê: "Die DA het die ongewone stap ter wille van effektiewe dienslewering geneem om die items op die oop agenda, op enkele uitsonderings na wat na die administrasie terugverwys is, opeens voor te stel en dit is met 'n meerderheid van stemme aanvaar."
Die ACDP sê in 'n verklaring raadslid Jeanette Gouws het 'n dringende mosie gebring na aanleiding van Barker se bewerings nadat 'n ander opposisieparty 'n soortgelyke mosie teruggetrek het.
Gouws beweer Kotzé het strydig met die gedragskode vir raadslede opgetree. Sy sê hulle beskik oor inligting met bewyse dat al die DA-raadslede ingelig is dat die vergoeding van die munisipale bestuurder strydig is met opdragte van Bredell en Dlamini-Zuma. "Dit beteken alle DA-raadslede wat op die vergadering was, het geweet dat die inligting weerhou word."
Die raad is tans vir twee weke met reses.
Vorige artikels:
- Speaker spreek misnoë uit na wanorde in raad
- Raadsvergadering vir drie ure verdaag
- Bewerings teen DA-koukus opgevolg
- Barker se aantygings betwis
- Raadslid bedank oor 'oneerlikheid'
Voormalige DA-raadslid, Anco Barker.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'