Update
MOSSELBAAI NUUS - Opposisiepartye in die Mosselbaaise raad wou gister tydens die raadsvergadering met 'n dringende mosie probeer bewerkstellig dat burgemeester, Dirk Kotzé, speaker Venolea Fortuin en DA-raadslede opsy staan hangende 'n ondersoek na beweringe deur 'n voormalige raadslid, Anco Barker.
Die mosie, wat die speaker toegelaat het om aan die einde van die oop agenda aangehoor te word, het egter nie geslaag nie.
Die Mossel Bay Advertiser het berig dat sommige opposisiepartye die verrigtinge ontwrig het en dat die vergadering vir 'n eerste keer in die termyn met drie uur verdaag het.
Na die onderbreking, het Kotzé aan die raad gesê dat die volle raad in Februarie hom eenparig gedelegeerde magtiging gegee het om die munisipale bestuurder se kontrak, vergoeding en prestasie-ooreenkoms ingevolge wetgewing te onderhandel.
"Dit is iets wat ek met groot sorg en deeglike oorweging gedoen het, veral nadat ek teenstrydige terugvoer van die nasionale COGTA Minister en Provinsiale Minister van plaaslike regering ontvang het. Ek het gevolglik wyd gekonsulteer, verskeie briewe aan die provinsiale minister van plaaslike regering gerig en 'n aanstellingskontrak met die munisipale bestuurder onderteken omdat ek oortuig is dat dit voordelig vir die groter Mosselbaai en die munisipaliteit is en waaruit ek of enige ander raadslid geen voordeel put nie,” het Kotzé gesê.
Hy sê die aanstellingskontrak was binne die bestek van die magte wat deur wetgewing aan hom toegeken is.
“Die munisipale bestuurder is wel op die maksimum salarisskaal, oftewel TARP, aangestel, en die salaris oorskry nie, soos beweer word, die TARP nie.”
Kotzé het gesê die geraas oor Puren se aanstelling is ‘n verwronge beeld van die groter prentjie. ‘Die talle suksesse wat tot dusver gedurende hierdie kwartaal behaal is, word gerieflik verontagsaam. Ongelukkig floreer politieke opponente op swak dienslewering, chaos en swak leierskap.”
Fortuin het haar misnoë uitgespreek met die wanordelike optrede van sommige opposisieraadslede in gister se vergadering.
"Ek betreur die gebeure in die raad, waar tot buitengewone stappe oorgegaan moes word om orde te herstel. In Mosselbaai se raad is ons nie gewoond dat raadslede uit hul beurt praat, beledigende aanmerkings en tussenwerpsels teenoor ander raadslede maak, of die ordereëls met opset minag nie.”
Die DA het gister ook die ongewone stap geneem om die items op die oop agenda, op enkele uitsonderings na wat na die administrasie terugverwys is, opeens voor te stel en met 'n meerderheid ter wille van effektiewe dienslewering te aanvaar.
Fortuin het afgesluit deur te sê dat die raad die volgende twee weke met reses sal wees en die hoop uitgespreek dat die volgende raadsvergadering oudergewoonte stemmiger sal verloop.
Vorige artikels:
- Raadsvergadering vir drie ure verdaag
- Bewerings teen DA-koukus opgevolg
- Barker se aantygings betwis
- Raadslid bedank oor 'oneerlikheid'
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’