MOSSELBAAI NUUS - Rumeque Taute (28) die ma van twee jong kinders wat op Maandagaand, 20 Mei in 'n motorbotsing op die hoek van Essenhoutstraat en Louis Fourieweg dood is, was die middag voor haar dood nog sprankelend. Só sê Mariëtte Thiart, die bestuurder van Ackermans in die Heiderand Mall.
Rumeque het vir die afgelope ses jaar as winkelassistent by hierdie klerewinkel gewerk en was vanaf die werk saam met haar oupa op pad huis toe, toe die voorval gebeur het.
Sy was 'n passasier in die wynrooi Honda waarteen 'n wit Nissan Navara-bakkie om ongeveer 18:20 gebots het.
Polisiewoordvoerder ao Pieter Koekemoer sê die Honda was in Louis Fourieweg en het in die rigting van Danabaai gery toe dit by die Essenhoutkruising regs gedraai het in die rigting van Uitbreiding 13, waarna dit deur die bakkie, wat in die rigting van Danabaai na Mosselbaai op Louis Fourieweg gery het, aan die passasierskant getref is.
Taute se oupa, William Johannes McCarthy (67) het die Honda bestuur. Hy is na 'n privaat hospitaal op Mosselbaai geneem waar hy vir sy beserings behandel is. Die bestuurder van die bakkie en sy twee passasiers woon in KwaNonqaba en is ook vir beserings behandel.
Altyd gelag
Rumeque se familie is verslae na die voorval. Sy was ongetroud en laat 'n dogter van 10 jaar en 'n dogter van 1 jaar en 3 maande agter. Thiart sê Rumeque, ook onder hulle bekend as Mieka, was die "son in die winkel".
"Sy het altyd gelag en was een van daardie mense wat jou dag kon opkikker. Die oggend voor haar dood het een van ons personeellede vir haar gesê sy lyk vandag ekstra mooi. Sy het die Maandag net 'n ekstra mooiheid aan haar gehad en sy was heeldag rustig en het met almal gesels en gelag. Min het ons besef wat sou gebeur."
Thiart sê Rumeque en haar kollegas "het nog 'n dansie gedoen voor ons die winkel gesluit het".
"Sy was baie na aan almal se hart."
McCarthy was met die ter perse gaan steeds in die hospitaal. Volgens Rumeque se niggie, Johnnize het haar oupa beserings aan sy kop, hand, linkerbeen en heup opgedoen. "My oupa het Rumeque by die werk gaan haal en hulle was saam op pad huis toe."
Begrafnis
'n Huisdiens word op Saterdag, 1 Junie om 10:00 by Romanstraat 47 in Uitbreiding 13 en om 11:00 by die AGS Family Worship Church vir Rumeque gehou. Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag. Enige ooggetuies word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, sers Riaan Carelse (044 606 2850/1) te kontak.
'n Hartseer William Johannes McCarthy, oupa van Rumeque sit op sy hospitaalbed.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'