MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-distrik se boere gaan tans onder 'n droogte gebuk, wat ernstige water- en voertekorte veroorsaak. Skenkings om verligting te bring kom uit verskeie oorde, van skole en kerke tot organisasies sonder winsoogmerk en liggame in die landbousektor.
Henry Meyer, Agri Wes-Kaap se streeksverteenwoordiger in dié gebied, sê hulle het onlangs 'n skenking van meer as R100 000 van die NG Kerk se Mosselbaai-ring ontvang, wat vir voer gebruik sal word.
Hy sê Agri Wes-Kaap het ook van sy kant af R300 000 aan die lede bewillig, maar het gesê dit sal ook vir nielede ingespan word. Die gemeenskap se ondersteuning in tye soos hierdie is ongelooflik, sê Meyer.
Verder is daar ook die Droogte Hulp met Burre Burger NPC wat al sedert Desember verskeie versendings van voer in die gebied afgelewer het.
Een van dié organisasie se onlangse inisiatiewe het skole regoor die land uitge-daag om op 23 Januarie aan die Civvies-dag vir Droogtehulp-fondsinsameling deel te neem.
Laerskool Hartenbos het nie op hom laat wag nie, en op 26 Januarie het hy die dag sommer met sy 122ste bestaansjaarvieringe gekombineer. Die skool het altesaam R33 817 ingesamel.
Beide Agri Wes-Kaap en Droogte Hulp met Burre Burger NPC het opsies op hul webtuistes waar skenkings gemaak kan word.
Vorige artikel:
Mosselbaai-boere kniediep in droogte, ernstige nagevolge dreig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’