MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-distrik se boere kan hulself vir ’n veel moeiliker komende produksieseisoen staal indien die huidige droogtetoestande sou voortduur.
Volgens die besturende direkteur van Optimal Agricultural Business Systems (Oabs), dr. Hamman Oosthuizen, hou die droogtetoestande beduidende tot ernstige risiko’s vir die verskillende boerderystelsels in die Mosselbaai-distrik in.
Vir veeboere, sê Oosthuizen, lê die risiko hoofsaaklik in die gebrek aan winterweiding as gevolg van die droogte, wat die voerkoste gevolglik gaan verhoog. Hy sê daar is sowat 50 melkerye in die Mosselbaai-gebied; ander prominente veevertakkings sluit onder andere skape en beeste in.
Die droogte se impak op die afgelope graanoes was relatief beperk in terme van opbrengs. Oosthuizen skat die afgelope oes kan sowat 10-20% laer eindig as die langtermyn- gemiddelde oesopbrengste. Laer heersende graanpryse het egter die afgelope seisoen ’n geweldige negatiewe impak op graanboere se inkomste gehad.
Oosthuizen sê die voortgesette gebrek aan reënval hou ’n beduidende risiko vir die volgende produksieseisoen in.
Skade aan vrugte en neute is nie tans beduidend nie, maar huidige en toekomstige watertekorte kan hewige langtermynimpakte daarop hê, aangesien dié gewasse meerjarig is en sensitief vir langdurige waterstres is. Besproeiingswatertekorte het reeds ’n groot impak op produksievlakke en -beplanning vir groenteboere, meen Oosthuizen.
Oabs het onlangs as deel van die Tuinroete-landbouontwikkelingsplan, wat die maatskappy namens die Wes-Kaapse departement van landbou saamstel, ’n landbousituasieanalise vir die gebied voltooi.
Boer en streeksverteenwoordiger
Agri Wes-Kaap se streeksverteenwoordiger vir dié gebied, Henry Meyer, het gesê aan Agri se kant is hulle tans met die relevante owerhede in gesprek oor die stappe om die droogte moontlik amptelik as ramp te laat verklaar.
Behalwe vir sy posisie by Agri Wes-Kaap is Meyer ook ’n melkboer in die Ruiterbos-omgewing. Mossel Bay Advertiser het vandeesweek by hom op sy plaas gaan draai, waar hy ’n prentjie geskets het van hoe die droogte verskillende gebiede en boerderye affekteer.
Henry Meyer by een van die opgaardamme op sy plaas in die Ruiterbos-omgewing. Foto: Linzetta Calitz
In ’n gebied soos Vleesbaai, sê Meyer, was daar verlede April laas ordentlike reën - daar kan jy sién dis droog. In dieselfde asem, sê hy ook, net omdat sommige gebiede miskien groen lýk, beteken dit nie dis nie droog nie. Daar is selfs ’n term daarvoor: ‘groendroogte’. Daar is ’n groen skynsel, maar dis nie te sê die groen is enigsins van voedings- of oeswaarde nie.
Waterbeskikbaarheid
Wáár plase geleë is beïnvloed natuurlik ook waar hul water vandaan kom. In dele van Herbertsdale is daar byvoorbeeld die opsie om besproeiing toe te pas. Dele van Brandwag en Brakrivier lê weer aan die onderpunt van bergstrome, wat waterbeskikbaarheid moeliker maak as hul bure wat hoër op geleë is.
Meyer gebruik byvoorbeeld nou water uit ’n bergstroom om waterbakke vol te maak, maar selfs dit is beperk omdat dit ook nie in die berge reën nie.
Henk Meyer, Henry se seun, maak ’n watertenk met bergstroomwater vol. Foto: Linzetta Calitz
Onder normale omstandighede doen hy dit egter glad nie, aangesien daar gewoonlik vir die diere genoeg drinkwater in die opgaardamme is.
Só lyk dit van die modder in damme wat baie min water in het. Foto: Linzetta Calitz
Henk Meyer, Henry se seun, wys hoe lyk dit in een van hulle damme wat baie min water het. Foto: Linzetta Calitz
Sommige boere se plaasdamme is dolleeg. Ander het dalk nog bietjies water in, veral na die onlangse ligte reën. Meyer sê egter die damme wat byna maar nie heeltemal leeg is nie, bring nog ’n uitdaging: die beeste wat in die modder vassit en weer uitgehaal moet word.
VIDEO: Een van die byna leë damme op Henry Meyer se plaas
Video: Linzetta Calitz
Aankoop en vervoer van voer
Behalwe vir water is voer die ander groot uitdaging. Die boere se voerbanke is uitgeput en die velde is droog, maar eet moet die diere eet, en dit beteken voer aankoop.
Meyer sê daar word eintlik baie min voer in ons gebied geproduseer, wat beteken dat dit hierheen aangery moet word. Daarmee kom weer nóg uitgawes. Volgens Meyer is dit tot R30/km. Voer wat 1 000 km weg is, kos dus R30 000 om tot hier te kry. En dan moet die trokke dikwels leeg terugry, wat ook ’n negatiewe impak het. Meyer sê dit was vir hom die kere wat hy self op die pad was opvallend hoe baie voer ’n mens kan sien aangery word.
Plaaslike verbruikers
Wat die effek op die plaaslike verbruiker betref, sê Oosthuizen ons is maar ’n klein druppel in die emmer.
“Ons distrik se droogte gaan nie noodwendig ’n onmiddellike direkte impak op verbruikerpryse hê nie. Maar as die droogte in die groter Wes-Kaap bly voortduur, kan die invloed na die verbruiker begin deurspoel. Maar weereens, ons produksie in die distrik is klein in die groter prentjie.”
Volgens die nuutste syfers van die Wes-Kaapse departement van landbou wat Oosthuizen tot sy beskikking het, lyk die gebied se gemiddelde “klein druppel” vir gewasse in ’n produksiejaar só:
• Graan, oliesade en lupien beslaan sowat 10 300 ha met ’n produksierandwaarde van sowat R180 000 000.
• Vrugte en neute word op sowat 1 100 ha verbou, met ’n produksierandwaarde van ongeveer R270 000 000.
• Groenteverbouing beslaan sowat 180 ha met ’n produksiewaarde van ongeveer R60 000 000.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’