BLOG - Hier in die grendeltyd, ontdek ek in ‘n winkeltjie op Albertinia ‘n ware outydse rariteit wat mens nie aldag raakloop nie.
Kompleet met die gepluisde, wynrooi omslaggie en in goue sierskrif die naam, Autograph Book.
Ek tel die boekie op en draai dit versigtig om om te sien wat dit kos. Mens maak mos so as jy effe platsak is. Jy tel die objek van jou begeerte met beslistheid op. Dan bestudeer jy dit vir ‘n rukkie krities, want almal rondom jou moet besef wat jou intensie is. En dan beloer jy die prys. Jy sluk hard en sit gewoonlik die item ongemerk neer. Jou verleentheid verdoesel jy deur kamtag in iets anders belang te stel. Hierna beweeg jy stadig na die deur en roep traak-my-nie-agtig “dankie” oor jou skouer.
So staan ek met die autograph-boekie in my hand. Ek draai dit om en verwag die ergste. R18. Dit kan seker nie wees nie? My ma het dan altyd gesê autograph-boekies is “verskriklik duur”. Of dalk het dit in die 80's ook R18 gekos wat toe nogal ‘n klomp geld was vir ‘n “nuttelose item”.
Toe ek op laerskool was, was ‘n autograph-boekie ‘n moet-hê-item. Daar was dae, veral so teen die einde van die jaar, dat die meisies in my klas met ‘n hulle autograph-boekies skool toe gekom het. Dan het hulle komplimente en lofbetuigings by die dosyne ingeoes. Veral as die oulike outjies in die klas jou boekie beetgehad het. Dít het nou vir jou ‘n spogtery afgegee.
Ek wou bitter graag ook ‘n autograph-boekie hê. Maar my ma het elke verskoning onder die son gehad waarom ek nié een moes hê nie. Haar troefkaart was die koste daarvan. Veral toe sy dit afspeel teen die nuwe Barbie-pop wat my bekoor het. Altyd effe aweregs, was ek beslis meer oor popspeel as oor komplimente.
Een autograph-boekie-week is die teerling gewerp. Dit was kort voor die Desembervakansie. Terwyl die normale gekwetter oor autographs aangegaan het, was ek en my bleeksielmaatjies besig om êrens hopscotch te speel toe Landi Potgieter * huilend verby hardloop. Sy was slim, mooi en haar ouers was ryk. Haar autograph-boekie was weergaloos van buite en van binne.
Ons almal het nuuskierig nadergestaan om uit te vind wat gaande is, maar sy het net die boekie beskermend vasgeklou en haar kop geskud dat haar poniesterte soos swepe slaan. Ek het gebrand om te weet hoekom sy so tekere gaan.
In ‘n onbewaakte oomblik na pouse los Landi toe haar autograph-boekie op haar skooltas. Omdat dit ‘n vertoonboekie is, reken ek toe, kan ek seker maar daardeur blaai. Dis mos publiek, amper soos ‘n outydse Facebook. Omdat die inhoud van die boekie eintlik aan my redelik bekend is, sien ek op die oog af niks fout nie. Tot ek by ‘n vuilgevatte bladsytjie kom.
Tussen die vingermerke lees ek: So is die lewe, so is die lot. Ogies vol trane, neusies vol snot. Uitermate geskok oor die growwe taal, klap ek die boekie summier toe en kyk oor my skouer uit vrees dat iemand sou kon gelees het wat ek sopas gade geslaan het. Soos die voorsienigheid dit wil, is ek alleen in die gang. Versigtig maak ek die boekie weer op dieselfde plek oop. Ek moes uitvind wie so iets walgliks sou skryf.
Rusty Beneke *. Rusty se pa het by die poskantoor gewerk en haar ma by die telefoonsentrale. Liewe mense, maar ‘n bietjie onverfynd. Ek het een keer by Rusty gaan speel. Net die één keer. En toe ek my ma vertel van die tannietydskrifte wat in die huis rondlê wat nie soos die Sarie lyk nie, het my ma gesê sy dink nie ek moet weer daar gaan speel nie.
My ma het destyds van beter geweet en dis nou nog so. Ek het nie haar besluit bevraagteken nie.
Na die lees van daardie bladsytjie, was ek finaal genees van my begeerte om ‘n autograph –boekie te besit. Ek was gans te bang dat iemand so iets verskrikliks in my spogboekie sou skryf. Ek het toe maar aanhou popspeel en heelwat langer ook nog as die meeste van my maatjies. Soveelso, dat ek later skelm moes speel sodat ek nie uitgespot word nie.
Maar ‘n mens bly helaas nie ‘n naïewe kind nie. En eendag, dan besef jy, Rusty was nie noodwendig vroeg ryp nie. Sy was dalk net vroeër as die res van ons ‘n realis.
Want so is die lewe…