Update
MOSSELBAAI NUUS - Ses van die sewe babahonde wat saam met minstens 53 ander boerboele by 'n boerboel-teelplaas op Hartenbos deur die Tuinroete-DBV geskut is, is aan Parvovirus dood.
Die Tuinroete-DBV sê dit is hoekom die honde, nadat hulle onlangs van die teelplaas verwyder is, eers in kwarantyn geplaas moes word.
Volgens die DBV was daar geen inentingsertifikate by die teelplaas vir die babahonde beskikbaar nie.
Intussen is sommige van die boerboele weens hul verswakte kondisie van kant gemaak. Die DBV het teen die ter perse gaan nie gereageer op navrae om die presiese getal te bevestig nie.
Die meerderheid van die honde is egter tans steeds besig om te herstel en word by die DBV op Mosselbaai en in George gevestig.
Die publiek het sedert die bekendmaking van die voorval groot getalle beddegoed en hondekos aan die onderskeie verenigings geskenk.
Die DBV het ook bevestig dat daar reeds van die honde aangeneem is en na liefdevolle huise verplaas is.
Daar is steeds honde vir aanneming beskikbaar en kan by die DBV-takke besoek word.
Die DBV sê hulle is nog in die proses om hul dokumentasie voor te berei om vervolging te verseker.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'