Update Warning: Graphic content
MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete-DBV het onlangs 60 boerboele vanaf 'n teelplaas op Hartenbos geskut. Die huidige eienaar het die besigheid in 2020 gekoop.
Skokkende foto's van verhongerde honde is deur die DBV aan die media gesirkuleer.
Volgens die DBV het van die honde erge druksere gehad en wissel die ouderdomme van die honde wat van die teelplaas is van babahonde, tot honde onder ses maande oud asook ouer honde. Volgens die DBV kon baie van die honde nie gered word nie.
'n Webwerf met die teelplaas se inligting adverteer steeds pragtige foto's van goedversorgde boerboele, in skrille kontras met die maer uitgehongerde diere wat die DBV moes verwyder. Boonop strek klagtes oor die betrokke teelplaas reeds sover terug as 2019.
Dit blyk dat ongerymdhede aan die orde van die dag was by die boerboel-teelplaas op Hartenbos waar 60 boerboele onlangs deur die Tuinroete-DBV verwyder is.
Die huidige eienaar van die telery ter sprake, het die telery in 2020 by 'n plaaslike, voormalige boerboelteler oorgekoop.
Dié telery was tot in 2020 by die Suid-Afrikaanse Boerboelvereniging geregistreer. Volgens inligting was daar egter reeds in 2019 klagtes oor die toestand van die betrokke fasiliteit.
'n Inwoner van Mosselbaai wat die Mossel Bay Advertiser gekontak het, sê sy het 'n klagte by die vereniging aanhangig gemaak omdat die honde volgens haar in hokke sonder enige skuiling aangehou was. Die telery was ten tye van die klagte op 'n perseel in die Geelbeksvlei-area geleë en het intussen na Hartenbos verskuif.
Volgens die vereniging het hulle die perseel destyds besoek en 'n inspeksie gehou. Ten tye van die besoek is bevind dat die honde in 'n goeie toestand was, maar dat die diere addisionele behuising asook skuiling benodig het. Naas 'n paar ander kwessies het die DBV die perseel besoek en is die raad glo meegedeel dat die nodige veranderinge aangebring is.
Registrasie afgekeur
Die nuwe teler kon egter sedert 2020 nie daarin slaag om die telery by die Suid-Afrikaanse vereniging te registreer nie. Volgens die raad het die huidige eienaar talle pogings aangewend om by die vereniging aan te sluit, maar dit is telkemale afgekeur.
Chandré Ludeke, 'n raadslid sê die vereniging het die nuwe eienaar verskeie kere gemaan om nie die publiek te mislei deur advertensies van babahondjies wat te koop is te plaas nie aangesien die telery nie by die Suid-Afrikaanse Boerboelvereniging geregistreer is nie. Die telery word tot op hede egter steeds op 'n webwerf as 'n geregistreerde boerboeltelery geadverteer. Ludeke sê die vereniging het die eienaar gevra om die verkoop van die ongeregistreerde honde te staak.
"Die aantal klagtes wat ons vanaf kopers ontvang het was kommerwekkend."
Honde verwyder
Die Tuinroete-DBV het die telery besoek nadat nog 'n klagte aanhangig gemaak is. Senior DBV-inspekteur Cheri Cooke sê ten tye van die onlangse verwydering van die honde was die diere beperk tot klein geëlektrifiseerde kampe sonder enige behoorlike slaapplek en in sommige gevalle sonder enige voldoende skuiling. Sy sê ook verskeie honde was erg vermaer en het met druksere gesukkel.
Die honde wat van die perseel verwyder is word by die Mosselbaai- sowel as die George-tak van die Tuinroete-DBV gehuisves.
Intussen het inwoners op Mosselbaai kos en beddegoed ingesamel om aan die DBV te skenk vir die versorging van die betrokke honde. Cooke sê lede van die publiek het ook reeds versoeke gerig om die honde aan te neem.
Met die ter perse gaan kon dit nie bevestig word of enige van die honde van kant gemaak moes word nie.
Eienaar praat
Die eienaar van die telery het met die Mossel Bay Advertiser gesels en was bereid om 'n verklaring eksklusief aan die Advertiser uit te reik. Hy het egter op resgadvies teen druktyd sy aanbod teruggetrek en verkies om geen kommentaar te lewer nie.
Die DBV is in die proses om administrasie af te handel sodat moontlike vervolging kan plaasvind.
Van die boerboele het só daar uitgesien.
Verhongerde boerboele het ook druksere gehad.
Vorige artikel: Severely neglected dogs rescued
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'